Beroepsgesondheid en -veiligheid in die landbousektor Volgens die - TopicsExpress



          

Beroepsgesondheid en -veiligheid in die landbousektor Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie is meer as 50% van die wêreld se arbeidsmag in die landbousektor werksaam. Daar heers dikwels ʼn persepsie dat werk in die landbousektor oor ’n ander kam geskeer moet word en dat wetgewing wat met beroepsgesondheid en -veiligheid verband hou, nie op hierdie sektor van toepassing is nie. Hierdie persepsie is verseker verkeerd! Alle gesondheid- en veiligheidwetgewing is net soveel van toepassing op die landbousektor as wat dit vir enige ander sektor in Suid-Afrika geld; trouens, die landbousektor het, afgesien van die sekuriteitsrisiko’s daaraan verbonde, ʼn baie wye verskeidenheid van risiko’s, selfs meer as in baie ander sektore. Die landbousektor is een van die gevaarlikste beroepsektore en het ʼn hoë voorkoms van beroepsbeserings en werkverwante gesondheidsprobleme. Werk in hierdie sektor wissel vanaf hoogs gemeganiseerde werk tot intensiewe handearbeid. Talle beroepsgesondheidsverwante probleme word veroorsaak deur die interaksie van mense met masjiene en diere, blootstelling aan die elemente en ergonomiese faktore. Aktiwiteite in hierdie sektor sluit in konstruksiewerk; swaar metaalwerk; houtwerk; sloping van bome; grondverskuiwingswerk; werk met wilde en gevaarlike diere; werk met gifstowwe; en chemikalieë en talle ander gevaarlike aktiwiteite. Werkers loop veral hoë risiko’s aangesien hulle blootgestel word aan ʼn verskeidenheid van risiko’s, byvoorbeeld: • die verskuiwing en optel van swaar voorwerpe; • vallende voorwerpe; • val van hoogtes; • gly en val; • brand; • werk onder uiterste temperatuurtoestande; • blootstelling aan die elemente, byvoorbeeld sonlig, wind en reën; • blootstelling aan verskillende soorte gevaarlike chemikalieë en ander giftige en gevaarlike stowwe; • blootstelling aan verskillende soorte stof (“dust”); • blootstelling aan die skop, byt, gaffel, ensovoorts van diere; • blootstelling aan biologiese risiko’s soos inseksteke, slangbyte, byte deur hondsdol-diere, klem-in-die- kaak, ensovoorts; • risiko’s van ontploffing van fyn meelstof; • risiko’s van insakking van en versmoring onder graansoorte in silo’s; • uitputting weens lang werksure, veral tydens verskillende hoë intensiteit tye, bv. ploegtyd en oestyd; • gebukkende of knielende werksposisies vir lang ure; • motorvoertuigongelukke; en • ongelukke met implemente. Dit is dus nie verbasend nie dat talle en uiteenlopende beroepsbeserings en -siektes, waarvan sommige selfs sterftes tot gevolg gehad het, in hierdie sektor gerapporteer word. Voorvalle van beroepsbeserings en -siektes sluit onder meer die volgende in: • amputasies deur masjinerie; • beenbreuke; • rugbeserings; • verstuitings, spierverrekkings en tendonitis; • dermatitis; • velkanker; • brandwonde; • respiratoriese siektes, byvoorbeeld tuberkulose, asma, rinitis, brongospasma en chroniese brongitis; • vergiftiging; • hondsdolheid; • klem-in-die-kaak; • amputasies van ledemate as gevolg van interaksie met wilde diere; • harsingskudding en hoofbeserings; en • steekwonde. Die landbousektor speel ʼn baie belangrike rol in die daarstelling van voedselsekerheid en hierdie sektor loop dikwels deur onder fel kritiek, maar dit is belangrik om te onthou watter prys werkers in hierdie bedryf ten opsigte van hul gesondheid en veiligheid dikwels moet betaal. Outeur: Paul Mardon
Posted on: Fri, 30 Aug 2013 06:35:55 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015