Blou Willem My ruim Cheetah-hart bloei vanoggend sommer blou vir - TopicsExpress



          

Blou Willem My ruim Cheetah-hart bloei vanoggend sommer blou vir my arme Bul-maters, wat ook so in beseringstyd die groot pyn aan hul gemoed moes voel. My innige simpatie, manne! Mag die Chiefs hierdie naweek eens en altyd daai grynslag van die Wit Jakkals se gesig vee. Terloops, hoekom haat onse mense ’n Nieu-Seelandse en ’n Aussie-skeidsslegter met die eerste oogopslag? Dit bespaar tyd. Nou ja, en toe het die rojale prinsie uiteindelik sy opwagting gemaak en daarmee die ou klomp Bleekbene – en veral die gelukkige, versiende wedder wat al drie die prinsie se name reg geraai het – baie bly gemaak. George Alexander Louis (GAL), of hierna die res van sy lewe genoem prins Gallie van die Galle, se eerste groot doek het waarskynlik sy pappie, prins Willempie, laat wens hy’s eerder terug in sy helikopter daar êrens bo Afganistan aan die veg met die Taliban. ’n Stukkie raad wat ek die Britte kan gee, is dié wat my oorlede ou vader so baie vir mý gegee het: You piepols, geniet vir klein Gallie, maar moet op prinsies nie vertrou nie! Ten minste het die Ingelse darem nog helikopters wat vlieg, anders as ons powere, vlerk-af SA Vlugmag, wat nou net helistopters en staantuie oorhet. En dan kannibaliseer hulle werktuigonkundiges nog hul eie staantuie om die ander reg te maak. Om wat mee te maak, wonder mens. Oom Johnny sê as dit nie vir die Zumtas was wat soms daar land nie, was die Waterroof-lughawe ook seker ’n parkeerterrein. Hy hoor juis by sy bronne as daar ’n vliegtuig kom land, hardloop die hele personeel uit om te kyk wat aangaan. So by my kool, en daar verloor ons eie prins Juju met sy rooi kadotjie toe sy laaste ou eiendompie. Eers is die arme mannetjie van sy koollande gestroop, toe van sy vyfster-murasie in Sondeton en nou van sy dorpshuisie in Polokpietersburg. Helaas, vriende en vriendinne, van al sy friedom en eiendom het nou net die dom oorgebly en sy EFF staan nou vir Eisj Favours Finished! Ek het die laaste paar jaar nie verder as Dwaalboom, Westonaria en Bultfontein gereis nie, maar onlangs saam met Dik Daan-hulle met ’n boot deur ’n paar plekkies soos Kroasië en Montenegro rondgeflenter. Daar kom ek toe agter dat niemand, maar niemand, iets wetenswaardig van ons ou landjie wis nie en dat selfs ’n duif wat in Rijs- wijk in Holland deur die brandweer gered moes word groter nuus as Madiba se toestand is. In ’n Hollandse koerant lees ons van ’n Ingelse ontkleedanseres wat verlede jaar haar noordelike dele dramaties laat vergroot het, maar nou eis dat die regering se NHS, wat hulle in die eerste plek groter gemaak het, haar ongemaklike bates weer verklein. Lékker man, lékker! Ek moet bieg, ek en Dik Daan het ’n mooi versameling van sulke ernstige, aamborstige gevalle daar op die eilandstrandjies gade geslaan, maar dan het my vriend met meerdere lewenservaring my gereeld gewaarsku: “Onthou, Blou, ’n vrou se noordelike deeltjies is soos die son: Dis oukei om vinnig te kyk, maar helgevaarlik om te staar!”
Posted on: Mon, 29 Jul 2013 06:24:39 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015