Die dag toe Dan Quichote sy eie liddoorn bestorm het by Bertus - TopicsExpress



          

Die dag toe Dan Quichote sy eie liddoorn bestorm het by Bertus Osbloed van Niekerk (Notes) on Monday, 8 July 2013 at 09:18 In ‘n bizarre geval waar ‘n skynbaar niksvermoedende hedendaagse ridder sy volk probeer mobiliseer, het Dan Roodt pas publiek gewys waarom hy nooit weer ernstig opgeneem behoort te word nie. Byna nes in die klassieke verhaal deur Miguel Cervantes is mens nie seker of jy hom moet jammer kry of vir hom moet lag nie. Hy beskuldig my van groepvorming en dat ek ‘n karikatuur van hom en sy saak maak. Intussen val die lagwekkende ironieë soos geraamtes uit sy kas. Dan se nuwe aksie: Boikot Naspers, Genoeg is genoeg, het onder meer ‘n Facebookblad waarmee sy napraters skuimend om die mond hulle saak probeer bevorder. Maar o wee, hulle probeer die medium gebruik op so ‘n ongeloofwaardige manier dat dit reeds in ‘n sirkus ontaard het. Waarskynlik duisende het reeds aangesluit gewoon om te kyk watter belaglike perspektiewe op rassistiese retoriek Dan en sy dissipels nóú weer gaan probeer om sy beursie te laat bult. Ja, dis reg. Dan maak op regte oudominee-manier sy binnekring só angstig dat hulle paranoia op berge en in dale eggo en dan, net wanneer sy gehoor ‘n tipe haas-uit-die-hoed oplossing verwag, vra hy dat hulle debietorders teken. Hy het immers die reg daartoe, verduidelik hy, want hy is besig met ‘n persoonlike vendetta teen Koos Bekker van Naspers, wat hom in 2003 in die pad gesteek het omdat hy ‘n obsessie het om swart-op-wit-misdade buite proporsie te blaas. Dit maak hom natuurlik in sommige se oë ‘n martelaar vir Die Saak. In wat na satiriese toeval lyk, vertolk Dan se sielsgenoot (minstens op hierdie blad) Dawid Boerseun die rol van Sancho Panza, en dit wil selfs voorkom asof asof Miemie Fick aspirasies het om die skoene van Luscinda vol te staan. ‘n Handvol medespelers voeg hulle hele Facebook vriendelys sonder laasgenoemde se medewete by en siedaar, vanoggend staan die ledetal wat hulle kwansuis agter Dan skaar, op meer as agtduisend. Een van hulle met ‘n profielfoto in kakieklere skree entoesiasties mee dat hy al ‘n dekade in Australië woon en verheug is oor die boikotaksie, want hy boikot lánkal reeds die Australiese media ook. “Vat so, Koos Bekker, nou gaan ek nie meer Beeld gratis aanlyn lees nie!” Tussen hakies moes ek gisteraand ek my lag onderdruk toe van die lede op die groep wat Naspers boikot, nuus oor Kurt Darren se ongeluk van Media24-bladsye af op hulle eie profiele en groepe kopieer en plak. Dit word vreemder. ‘n Vriendin wat nie so maklik en geredelik as ek protes aanteken wanneer sy sonder haar medewete en teen haar beginsels by groepe gevoeg word nie, besluit gisteraand om die blad stil-stil te verlaat. Vanoggend is sy terug op die blad. En hier’s waar dit volkome hand uit ruk: by die lys van bekendes, akteurs en selfs senior joernaliste wat natuurlik status aan sy tirade moet verleen, kan Dan Quichote ook op die oorlede violis, Annake de Villiers, se lidmaatskap roem. Dis reg, een van Annake se vele volgelinge het haar meer as ‘n jaar ná haar dood by die groep gevoeg. En dan jubel Sancho Panza op mý Facebookblad dat hulle “sonder die hulp van Naspers net deur word of mouth” groei. Daar het jy dit. Lag mens nou of huil jy? Dan, die volgende paragrawe is spesifiek vir jou, net sodat jy darem sien ek maak erns met skrywes wat jy aan my persoonlik rig: Nelson Mandela is meer as die voormalige eggenoot van ‘n misdadiger, soos jy haar beskryf. En die somtotaal van wat hy vir hierdie land en die wêreld gedoen het, kan nie buite konteks afgemaak word teen een uitspraak tydens sy stryd teen ‘n onmenslike politieke bedeling nie. En vergun my die plesiertjie om soos Pontius te klink as jy my daarvan beskuldig dat ek jou soos die dorpsidioot laat lyk: jý het dit gesê. Ek het nog nooit vir Naspers gewerk nie en ek het nie hulle maniere nie. Jy is besig met ‘n smeerveldtog wat geen basis in die werklikheid het nie. Daarby kan ek nie glo dat jy die arrogansie het om álle joernaliste en die media dom en dommer te noem nie. O, en álle staatsamptenare is te sleg om hulle werk te doen (seker met gevolg ook die enkeles wat jou debietorders geteken het?). En skielik as jy jou vasloop in die stertkant van jou eie argument, verander jy die onderwerp. Op ‘n punt van orde wil ek jou vra om jou huiswerk beter te doen voordat jy my van narcisisme beskuldig. Dis jý wat groepe mense om jou mobiliseer en warm broei met jou verbeeldingsvlugte. Dis jý wat emosionele argumente gebruik om jou vingers in fundamentaliste se beursies te kry en glorie vir jouself bymekaar te maak. Dus antwoord ek jou graag: nee, plaasmoorde amuseer my nie, maar ook nie gebrekkige infrastruktuur op kleiner dorpies nie, ook nie korrupsie nie, ook nie vigsyfers op die platteland in KZN nie en ook nie enige ander vorm van ongeregtigheid hier of elders op die planeet nie. Ek is nie deel van ‘n bende wat “proes vir elke nuusberig” soos jy beweer nie. Ek is ‘n trotse Suid Afrikaner wat my gat af werk en my deel probeer doen om te bou aan ‘n ekonomie wat my en my kinders kan baat terwyl jy in die nes waar ek moet slaap, skeit. Dit vind ek allermins amusant. Ek is ook patrioties, maar op ‘n ander manier as jy. Jy gee jou misnoë met my te kenne, en ek is meer as gelukkig om dieselfde teenoor jou te doen. Die syfers op jou blad is ‘n swak refleksie van jou aanhang op grond van wat ek hierbo en elders gewys het. Jou saak is sonder meriete en jou nalopers is verblind deur hulle gemeenskaplike verlangde na ‘n vergange sisteem waaraan my kinders nog die skuld sal moet afbetaal. Jou blad word op korrupte manier bedryf. En net omdat jy volumes Eurosentriese filosofiese boeke ingesluk het, maak dit jou nie intelligent nie en jy is beslis nie so aktueel tot enige debat as wat jy jouself verbeel nie. https://facebook/notes/bertus-osbloed-van-niekerk/die-dag-toe-dan-quichote-sy-eie-liddoorn-bestorm-het/591076774266144
Posted on: Mon, 08 Jul 2013 09:19:55 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015