Dis ’n pragtige wintersoggend in Mosselbaai. Ek sit op ’n rots - TopicsExpress



          

Dis ’n pragtige wintersoggend in Mosselbaai. Ek sit op ’n rots ek woel my vingers deur die miljoene skulpies op die strand. Die kinders speel net ’n entjie vêrder en terwyl ek hulle dophou voel ek hoe die vrede van die omgewing oor my spoel. Die seelug is verbasend warm en die klanke van laggende kinders, sagte branders en ’n skertsende seemeeu vul die stiltes.’ n opgewonde labrador kom verby gebons en spring pens en pootjies binne-in ’n rots poel. Terwyl ek die bedrywighede op die strand dophou, maak ek ’n hand vol perfekte klein skulpies bymekaar. Hulle is nog nie stukkend gemaal deur die branders of verweer deur die son en sand nie. Die kinders kom nader gehardloop en my dogtertjie gee vir my ’n hand vol skulpies om te hou. Ek vou my hand oop en kyk na dit wat sy bymekaargemaak het. Daar is miskien een heel skulpie, die res is stukkend. Party is verbleik deur die son en ander is glad gemaal deur die die golwe.“ Kyk mamma!” sê sy, terwyl sy die skulpies een vir een op die rots langs my pak. “ Hierdie twee is pienk, dis my beste kleur. Die drie oranje skulpies is vir my niggies. Hierdie enetjie is grof soos pappa se baard en die wittetjie is sag soos jy. Die bloue is vir boetie want dis sy beste kleur.” Sy hou ’n verbleikte verweerde stukkie skulp teen die lug en sê” Hierdie ene is die mooiste . . “ Het jy gesien dis ’n hartjie mamma? “ Ek dink die see maak partykeer hartjies van stukkende skulpies en dan tel mense dit op en dan onthou hulle dat Jesus vir hulle lief is.” Sy draai om en hardloop terug strand toe . . . Ek kyk haar agterna terwyl ek my hand vol perfekte skulpies oopvou . . Waarom streef ons so na perfektheid as dit in werklikheid nie bestaan nie? Ons sloof onsself daagliks af om te bou aan die illusie van ’n perfekte prentjie, die perfekte huis, die perfekte kinders om maar net oor en oor teleurgestel te word deur die onbereikbare leegheid daarvan.Dis asof niks in die wêreld mens vervul nie. Die woord praat egter van ’n geskenk, ’n heerlike geheimenis waar daar perfekte vervulling is: Kol 1:27 God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe seënryk en heerlik hierdie geheimenis vir die nasies is. Die inhoud daarvan is: Christus is in julle, Hy is julle hoop op die heerlikheid. Ons geskenk is die teenwoordigheid van Christus in ons. Dis so groot dat ons dit nie eers kan begin om dit werklik te verstaan nie. Ek het eendag die volgende verduideliking gehoor: Die geskenk van Jesus Christus in ons is soos om ’n diamantring in ’n checkers sak toe te draai. Die verpakking verminder nie die waarde van die inhoud nie.Om Christus in ons te hê, verander nie wie God is nie, maar dit verander wel wie ons is. Dit verander wat ons doen, hoe ons praat en waarheen ons op pad is. Ek kyk weer na my hand vol perfekte skulpies en ek gooi hulle oor my skouer. My dogtertjie se verweerde en vernielde skulpies het soveel meer waarde as ’n hand vol perfekte skulpies. Haar skulpies het betekenis en vertel ’n storie van die liefdes in haar lewe.Net so is ons, met ons tekortkominge en foute baie meer werd omdat Jesus Christus in ons woon. Ten spyte daarvan dat ons deur die lewe verbleik en verweer is, vertel ons ook ’n storie. Die mooiste storie oor oneindige liefde en ’n Man van Nasaret wat die dood oorwin het en wat die wêreld se hoop is op heerlikheid! Here, dankie, vir die liefdes in ons lewe. Gee vir ons die wysheid om die leë dinge in die lewe eenkant toe te stoot. Leer ons om met ons harte te kyk en nie met ons oë nie sodat ons die hartjies wat U baie keer uit die stukkende dinge vir ons maak ,sal raaksien. Amen
Posted on: Wed, 09 Oct 2013 19:29:16 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015