Donderdag 19 September Lees Hebreërs 11:5-6 Leef só, dat - TopicsExpress



          

Donderdag 19 September Lees Hebreërs 11:5-6 Leef só, dat mense kan getuig dat jy leef soos God dit wil! Teks: Hebreërs 11:5 5Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. Om te lewe in die geloof en om te lewe soos wat God dit wil is dié regte sleutel wat jy nodig het om die hemelpoorte te betree. Daarvan getuig die lewe van Henog dat die Here hom sommer so lewend opgeneem het hemel toe. Ons weet dat dit ook met Elia en met Jesus gebeur het. Die een sentrale waarheid wat oor al drie gesê kan word is dat hulle baie naby aan die Here geleef het, meer nog met God gewandel het. Wat leer ons hieruit? NOMMER EEN: Om te leef in die geloof en nie deur dit wat jy sien nie (2 Korintiërs 5:7). Vir Tomas het Jesus gesê: “Gelukkig is jy wat sien en glo, maar nog meer gelukkig is hulle wat glo en nie gesien het nie” (Johannes 20:29). NOMMER TWEE: “Laat julle lewe deur die Gees van God beheer word…”en wees versigtig vir die begeertes van die sondige natuur. Om deur die Gees van Jesus wat in gelowiges woon, gelei te word, is ‘n proses van oorgawe en gehoorsaamheid aan die Gees wat veral deur die Woord en medegelowiges ons wil lei. NOMMER DRIE: Ons moet in die lig loop (Efesiërs 5:8) want ons is kinders van die lig en ons moet die lig van Jesus wat op ons skyn, uitstraal in die wêreld. NOMMER VIER: Ons moet lewe in ooreenstemming met die roeping wat ons ontvang het (Efesiërs 4:1). God roep elkeen van sy kinders om waardig te leef en in die voetspore van Jesus te leef. NOMMER VYF: Ons moet in gehoorsaamheid leef (Handelinge 9:31). Elke gedagte en elke woord van ons moet ons toets of dit gehoorsaam is aan die Here Jesus self. Dit moet vir ons ‘n voorreg wees om gehoorsaam aan die Vader te wees soos Jesus. NOMMER SES: Ons moet in die liefde lewe (Efesiërs 5:2). Soos wat Jesus ons liefhet moet ons ook mekaar liefhê. Ons hele lewe moet met die liefde van Jesus, wat die Gees oor ons uitgestort het (Romeine 5:5) deurdrenk wees. GEBED: Here Jesus ek wil met U wandel… Amen
Posted on: Wed, 18 Sep 2013 19:38:32 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015