Geestelike waardes: Wat om te gee vir mense wat reeds alles - TopicsExpress



          

Geestelike waardes: Wat om te gee vir mense wat reeds alles het Die Burger Saterdag 23 November 2013 Wat skenk ’n mens aan diegene wat reeds alles het? vra die geselsprogram oor die radio. En inderdaad. Wat bly dan oor om te gee? Die seisoen van géé – van dink aan geskenke en dalk ook heimlik verwag om te krý – het weer aangebreek. In sommige kulture draai dit om ander figure en hul datums – St. Nikolaas, St. Martin, Kersvader – maar vir vele van ons kom dit met Advent, met Geseënde Kersfees en Gelukkige Nuwejaar. En inderdaad speel die motief van géé, van gawes en geskenke, in die Bybelse vertellinge ’n sleutelrol. Al in Matteus en Lukas se berigte oor die Kind se geboorte val dit op. Wyses uit die Ooste bring goud, wierook en mirre (Matt. 2:11). Maria betuig lof vir onbegryplike guns (Luk. 1: 46-56). Anna en Simeon herken die verlossing waarop gehoop is (Luk. 2:25-40). Engele besing Gods welbehae (Luk. 2:1-20). Apostels dui later dié gebeure as geskenk, gawe, vrye en grootse guns, as Gods liefde vir mense (Tit. 2: 11-14; 3:1-10), as die gawe, oorgawe, self-oorgawe van Gods eie Seun (1 Joh. 4:7-21). Gestel die kerk sou vandag dié tradisie wou voortsit en in die gees van dié seisoen aan die wêreld geskenke wou gee, wat sou dit kon wees? Wat bly oor om te gee aan mense wat reeds alles het – en niks meer kortkom of verwag nie? Wat sou nog kon verras en bly maak, indien nog hoegenaamd? Waarop hoop ons wêreld dalk nog van die kerk, indien wel enigiets? Oor sulke vrae wonder die Kroatiese teoloog van Yale, Miroslav Volf, in A Public Faith – How Followers of Christ Should Serve the Common Good. Wat het die kerk om die openbare lewe te bied? Sy antwoord is interessant – maar dalk ook omstrede. Die kerk kan aan die wêreld ’n visie help skenk van wat human flourishing regtig beteken, sê hy. Dis glo die hedendaagse in-ding, wat almal begeer en najaag. Ons wil gedy, vervuld voel, bevredig word, ontluik, ontplooi, opbloei, blóm. Maar wat beteken dit? Wannéér gedy ons werklik? Op dié vraag help die evangelie ons antwoorde kry, glo hy. Maar verwag ons tydsgees regtig van die kérk antwoorde op dié vrae? Is die populêre houding van kultuur en lewenstyl wat kerk en geloof betref nie veeleer been there, done that nie? Méér algemeen as om na die kerk te kyk vir oriëntasie is tog eerder die gevoel dat wát die kerk met sy evangelie ook al mag weet, verstaan ons self beter en wát die kerk met sy evangelie ook in die verlede mag bygedra het, dié kan ons nou sélf, baie dankie. Die evangelie se gróót woorde – genade, vergifnis, versoening; naasteliefde, barmhartigheid, sorg – en die gróót bydraes van gister – tot vryheid, geregtigheid, menswaardigheid, vrede – dié klink tog alles na ou nuus? Maak dié strewes nog enigeen opgewonde? Klink dit nog nuut, verrassend, opwindend – soos geskenke vars uit die papier? In ’n omgewing waar ons almal so blasé en selfvoldaan kon word dat selfs dié drome nie meer ons harte vinniger laat klop nie, wat géé ’n mens nog as geskenk aan dié wat – dínk dat hulle – reeds alles weet en besit?
Posted on: Sat, 23 Nov 2013 08:15:53 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015