God hoor en sien en gee om “God was by die kind en hy het groot - TopicsExpress



          

God hoor en sien en gee om “God was by die kind en hy het groot geword.” — Genesis 21:20 — Lank terug het die Prediker gesê dat daar niks nuuts in die wêreld is nie (vgl. Prediker 1:9). Is dit nie so dat hy die spyker daarmee op die kop geslaan het nie? Al dink ons dat ons so slim is, is daar regtig eintlik niks nuuts onder die son nie. Ek het aan baie voorbeelde probeer dink, maar selfs in die konteks van ons Skrifgedeelte is selfs surrogaatmoederskap nie eers iets nuuts nie. Al word dit nie in die Bybel so by die naam genoem nie, is dit eintlik ’n baie ou gebruik. Lees ook Genesis 30:3 – (“Ragel het vir hom (dit is vir Jakob) gesê: “Hier is my slavin Bilha. Hou gemeenskap met haar sodat sy haar kind op my knieë in die wêreld kan bring en ek deur haar ’n kind kan hê.””) – Die praktyk wat hier beskryf word dui op die gewoonte in Israel dat ’n vrou geboorte op haar man se skoot – sy knieë gegee het. As dit ’n slavin was wat geboorte aan die babatjie gegee het dan het sy dit op haar eienares se knieë gedoen. Indien die eienares van die slavin en haar man die kind wou aanneem is die kind aan die man oorhandig en as hy die pasgebore babatjie ook op sy knieë laat lê het, dan het die kind wettiglik die eiendom van die kinderlose egpaar geword. Hou verder ingedagte dat ’n slavin aan die vrou behoort het wat haar as slavin gekoop het. Sy was haar eiendom en sy kon met die slavin maak soos sy wil (sien: Knobloch, F. W. (1992). Adoption. (D. N. Freedman, Ed.) The Anchor Yale Bible Dictionary. New York: Doubleday.). Maar eers probeer Abram om ’n kind aan te neem. Aanneming was ook ’n wettige manier om ’n kind van jou eie te kry. In die vorige hoofstukke word dan ook vertel hoe Abram probeer het om as ’t ware deur ’n noodoplossing God se belofte te laat waar word; eers probeer hy om Lot, sy broerskind (vgl. Gen. 11:31; Gen. 13:8), aan te neem, maar dit het glad nie uitgewerk nie, en dit is toe dat hy besluit om dan maar sy eie slaaf, Eliëser, aan te neem (vgl. Gen. 15:2-4). Maar God was nie hiermee tevrede nie. Die Here sê uitdruklik vir Abram dat Eliëser nie sy erfgenaam (seun) sal wees nie. Al wat nou vir Abram en Sara oorgebly het, was eintlik net surrogaatmoederskap. Die slavin, in hierdie geval Hagar, het dan vir Sara ’n kind in die lewe gebring. Streng wette het hierdie surrogaatmoederskap gereguleer. So ’n slavin mag nie sleg behandel word nie. Sy mag nie weggejaag word nie. Dit was in so ’n ernstige lig beskou, dat ’n oortreding hiervan met die dood strafbaar was; hulle kon die doodstraf opgelê word. Sara was al oud en het besef dat daar menslik nie veel hoop was dat sy swanger kon raak nie. Sy vra dat Abram ’n kind by Hagar, haar slavin, verwek. Dit gebeur. Haar plan om die belofte van die Here ’n werklikheid te maak, slaag skynbaar. Maar dan loop alles skeef. Daar kom spanning nie net tussen Hagar en Sara nie, maar dit lei ook tot spanning tussen Sara en Abram. Sara verwyt Abram (Gen. 16:5) en sê dat dit alles sy skuld is. Hy sê dan dat sy maar moet doen wat sy wil. Sara behandel Hagar so sleg dat sy nie anders kan as om weg te loop nie. As sy later terugkom, word die storie weer herhaal. Net, dié keer jaag Abram haar en die kind weg, al is dit op versoek van Sara. Die vader van die gelowiges tree teen die wette van daardie tyd op. Hy, en sy vrou, tree op so ’n wyse op dat hulle die doodstraf verdien. In albei die situasies wat hom voordoen lyk dit asof Hagar die einde van die pad bereik het, asof daar geen uitkomkans gaan wees nie. Toe Abram haar uiteindelik op versoek van Sara wegjaag, maak sy haar gereed om saam met haar kind in die woestyn te sterf. Hoe bitter ironies dat dit juis Abram en Sara is wat vir Hagar in die ellende laat beland. Dat dit nou juis hulle moet wees wat ’n medemens die woestyn instuur met die seker wete dat sy en haar kind daar gaan sterf. Abraham en Sara was tog God se mense – twee mense wat deur God geroep is om, in die woorde van Genesis 12:3, ’n seën vir al die volke van die aarde te wees. Dit was hulle roeping: om tot seën te wees. En nie net vir spesifieke, uitgesoekte mense nie, maar vir alle mense. In die verhaal van Hagar en Ismael faal Abram en Sara klaaglik in hulle roeping. Hulle doen eintlik die teendeel – in plaas daarvan om tot seën te wees, tree hulle hier direk tot nadeel van ’n medemens op. Nadat hulle die slavin misbruik en uitgebuit het, raak hulle sommerso van haar ontslae! Die verhaal sê vir ons dat God anders is. God laat mense nie aan hulle lot oor nie. Hy is daar as hulle in nood verkeer en Hy is daar om ’N VERSKIL te maak. Hagar ontmoet God in die woestyn. Nadat Abram en Sara haar weggejaag het, ontdek sy dat God Hom oor haar ontferm. Sy leer God ken as die Een wat sien en hoor en omgee. Wanneer God haar in Genesis 16 te hulp kom, sê sy: “U is ’n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het” (Gen. 16:13b). En in Genesis 21 lees ons: “God het die kind hoor huil …” (Gen. 21:17a). Dit is hoe God is: Hy sien, hoor en gee om wat met mense gebeur. Hy is ook die God wat doen. Hy maak reg waar mense verbrou het en waar daar menslik gesproke nie meer uitkoms is nie. Hy voorsien selfs in die woestyn! “Toe het God haar oë oopgemaak en sy het ’n put met water gesien” (Genesis 21:19a). EN: “God was BY die kind en hy het groot geword” (Gen. 21:20). Die ellende wat op aarde aangaan, gaan nie agter God se rug of langs Hom verby nie. Hy sê ook nie maar net “sies tog”, en kyk dan anderpad nie. God het meer as meegevoel. Hy het medelye. Letterlik mede–lye. God is betrokke by lyding. So betrokke dat Hy die hemelse ruimtes verlaat het en in sy Seun ’n blote nommer op keiser Augustus se sensus-lys geword en as ’n gewone handearbeider tussen die houtsnysels in ’n Nasaretse timmermanswinkel gaan werk het. So betrokke was Hy by menslike ellende dat Hy hom deur gewone mense aan ’n kruis laat vasspyker het … Ons gesukkel en gespartel om ’n daagliks te oorleef; die geweld en die sinlose moorde; die korrupsie en bedrog; die werkloosheid en stygende pryse – niks gaan agter God se rug verby nie – Hy weet van ALLES! Toe die apostel Johannes na Patmos verban is, sien hy in ’n visioen ’n sewevoudig verseëlde boekrol waarin die toekomstige geskiedenis van die wêreld opgeteken staan. En hy brand om te weet wat binne-in staan, want miskien is daar tog êrens ’n tikkie hoop. Maar dan kan daar niemand in die hemel of op die aarde gevind word wat die boekrolle kan oopmaak om ’n blik op die toekoms te gee nie. Johannes het sommer van moedeloosheid aan die huil gegaan. Dit is toe dat een van die ouderlinge vir hom sê: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda … het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak” (Op. 5:5). Met die, toe Johannes deur sy trane opkyk om die Leeu te sien, sien hy ’n geslagte Lam daar staan. ’n Geslagte Lam! ’n Lam verwond deur die wêreldgeskiedenis. Sy hande, waardeur die drade van die wêreldgeskiedenis gly, het spykermerke in en dit bloei. Sy lippe is gebars van die dors en dit vorm ’n kreet: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Sy voete waarmee Hy deur die wêreld se krotbuurte geloop het en vandag nog loop, is stukkend. God ken angs. Hy ken geweld. Hy ken bedrog en verraad en korrupsie. In sy Seun het Hy dit alles self as mens kom deurmaak. Al die ellende in die wêreld is nie Sy toedoen nie, maar Hy is nogtans hier tussen ons, besig om die geskiedenis te stuur in die rigting van die sewende seël. Hierdie verhaal (van Hagar) wil vir ons sê dat ons nie die liefde van die Here moet inperk nie. Dit is nie net vir die uitverkorenes en die hoë klas nie. Nie net vir die vader van die gelowiges en sy gesin nie. Nie net tot die tot wie ons dit sou wou beperk nie. Trouens hierdie verhaal leer duidelik dat die vader van die gelowiges en sy vrou ook voete van klei het. Hulle is sondaars soos alle ander mense. Hulle het so opgetree dat hulle nie minder nie as tweemaal met die dood gestraf moes gewees het. Ons leef in ’n wêreld en ’n samelewing vol nood: armoede en hongersnood, vigs, TB, slagoffers van misdaad en geweld, mense teen wie daar gediskrimineer word en wat as uitgeworpenes behandel word. Is ons gereed om die wêreld met sy ellende in die oë te kyk? Wil ons mense se nood raaksien, na hulle verhale luister en hoor wat hulle werklike behoeftes is? Sal ons dinge doen wat ’n verskil maak? Sien ons as kerk, as gelowiges, kans om God in ons wêreld en in die omstandighede van ons tyd te verteenwoordig? In die kerk gaan dit nie ten eerste oor die kerk nie, maar oor God – sodat die wêreld kan ontdek dat God en sy mense omgee. God hoor en sien en gee vir ELKEEN van ons om, en wanneer ons hierdie vertroostende waarheid ons eie gemaak het en daaruit leef, dan gaan óns ore oop om die sugte van die wêreld te hoor. So word getrooste mense uiteindelik self troosters in ’n stukkende wêreld. Is ons sulke troosters? Gebed: Wat voor ons is, – hoe ons sal lewe en wanneer ons sal sterwe – dit weet ons nie. Maar een ding weet ons wel: Alle dinge en alle tye rus in u hande en daar is dit veilig en georden. Dankie dat dié orde voortspruit uit u onfeilbare wysheid en u oneindige liefde, o God, wat liefde is! Amen (Charles Simeon – Uit: Gebedeboek vir die lewe – Lux Verbi.BM) Hartlike groete in Christus. Hentie Krüger
Posted on: Wed, 07 Aug 2013 05:05:40 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015