Goeie more pragtige Suid-Afrika!! Nuus om 07h00 op radio - TopicsExpress



          

Goeie more pragtige Suid-Afrika!! Nuus om 07h00 op radio NOU!! # President Jacob Zuma sê hy het geen benul wie “Nommer Een” is nie. Dit volg op berigte dat “Nommer Een”, wat sy kodewoord in die Lugmag is, na bewering vooraf magtiging verleen het dat die invloedryke Gupta-familie se privaat vliegtuig met bruilofsgaste in April op die Lugmagbasis Waterkloof, ‘n nasionale sleutelpunt, kon land. Zuma het in die Parlement ook gesê hy het beslis nie vooraf van die omstrede landing geweet nie. Die Demokratiese Alliansie het Zuma daarvan beskuldig dat hy die vrae beantwoord het met algehele minagting vir die erns van die saak. Parlementêre leier Lindiwe Mazibuko wys daarop dat hy dit doen al was sy eie ministers bewus daarvan en al duik sy naam telkens op in beëedigde verklarings deur senior offisiere. Sy sê Zuma se verklaring dat hy nie aanspreeklik gehou kan word vir wat ander sê nie en dat dit nie sy probleem is nie, is vreemd aangesien ‘n familie met noue bande met hom die wet oortree, ‘n privaat vliegtuig op ‘n sleutelpunt laat land en sy naam gebruik het daarvoor. # Die Nasionale Seereddingsinstituut in Port Elizabeth het ‘n man gered toe sy rubberboot by die Swartkops-riviermonding in ‘n seestroom beland en meegesleur is. Woordvoerder Craig Lambinon sê die dertigjarige man van Uitenhage het in die rivier visgevang toe die boot se enjin onklaar geraak en die anker gesleep het. Hy het die NSRI gebel en vrywilligers het die reddingsboot Boardwalk Rescuer te water gelaat. Hulle het die rubberboot land toe gesleep en die man het nie verder bystand nodig gehad nie. # Daar is aanduidings dat die voormalige Palestynse leier Jasser Arafat dalk met radioaktiewe polonium vergiftig is. ‘n Switserse forensiese span het die afleiding gemaak nadat hulle sy oorskot en ander materiaal ontleed het. Die oorsaak van Arafat se dood is as ‘n beroerte aangegee nadat hy in 2004 in ‘n Franse hospitaal gesterf het. Sy oorskot is egter verlede jaar opgegrawe te midde van hardnekkige bewerings dat hy vermoor is – na bewering deur Israel, wat dit ten sterkste ontken. # Krieket: Suid-Afrika loop 2-1 voor in die eendagreeks teen Pakistan in die Verenigde Arabiese Emirate nadat hy die derde kragmeting in Abu Dhabi met 68 lopies gewen het. Die Proteas se kolwers het die eerste keer in die reeks goed gevaar en 259 vir ag in hulle vyftig boulbeurte aangeteken. Pakistan is in sy 45ste boulbeurt vir net 191 uitgeboender nadat die draaibouler Imran Tahir vier paaltjies geneem het en die snelboulers Morné Morkel en Ryan McLaren elk twee. Die vierde kragmeting in die reeks vind môre ook in Abu Dhabi plaas en die laaste een Maandag in Sharjah. # Tennis: Rafael Nadal van Spanje het seker gemaak dat hy die jaar as die nommer een-speler op die wêreldranglys afsluit toe hy sy tweede oorwinning in die jaareindtoernooi in Londen behaal het. Hy het die sewende gekeurde Switser Stanislas Wawrinka met 7-6 en 7-6 verslaan en daarmee ook deurgedring na die halfeindronde van die toernooi, waaraan net die voorste ag manspelers in die wêreld deelneem. In gister se tweede kragmeting het die Tsjeg Tomas Berdych vir David Ferrer van Spanje met 6-4 en 6-4 geklop. # En nuus van die geldmarkte: Die rand verhandel tans teen 10 rand-26 sent teen die dollar, 13 rand-87 sent teen die euro en 16 rand-50 sent teen die pond. Die goudprys staan op duisend-318 dollar-49 sent per fynons en die prys van Brent ruolie op 104 dollar-91 sent per vat. Volgende nuus 0m 07h30 in engels
Posted on: Thu, 07 Nov 2013 05:00:47 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015