Here, dankie vir die mense wat U op my pad gestuur het. Dankie - TopicsExpress



          

Here, dankie vir die mense wat U op my pad gestuur het. Dankie vir mense wat die nodige kennis het om my te kan help. Ek weet U maak hulle bevoeg en bekwaam, dankie daarvoor. Here, help my om ander mense se nood raak te sien, soos U my nood raakgesien het. Leer my om U volkome te vertrou. Vir nou, vir vandag, vir môre en vir die toekoms. Help my om sterk te wees en altyd goeie moed te hou So baie dae wil die moegheid en moedeloosheid my onderkry, maar U belowe dat dié wat op U vertrou nuwe krag sal kry, dat hulle sal vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie Ek kies vandag teen die moeg, ek kies om op U vleuels te sweef. Here, so baie keer staan die reus vierkantig voor my, maar dan onthou ek dat met U hulp ek ‘n oormag storm kan loop, dat saam met U geen stadsmuur vir my te hoog is nie. Here, op ander dae kom steel die twyfel en vrees my lewenslus. Die depressie laat my soms baie magteloos en onseker voel. Here, die vrees wat ek binne my dra is heeltemal te veel vir my, maar ek weet dat U Gees my met liefde, krag en selfbeheersing vul. Ek glo dat U alle vrees binne my kan verdryf. Dankie vir die dae wat dit regtig goed gaan met my. Dankie vir dae wat ek U teenwoordigheid so tasbaar kan voel. Dankie vir vriende en familie wat moeite doen om my te verstaan. Here, ek is jammer dat ek soms vir U kwaad is oor my toestand. Dankie dat U liefde geen perke ken nie, dat U nooit minder lief is vir my nie. Help my om te onthou dat U krag juis tot volle werking kom wanneer ek swak is. Here, leer my wat dit beteken om te lewe met die wete dat ek alles kan doen deur U wat my krag gee. Al voel dit soms vir my asof ek ‘n nul op ‘n kontrak is. Here, ek weet ek moet sekere dissiplines aanleer om te voorkom dat ek weer siek word. Help my, Here. Help my dat ek gedissiplineerd sal wees. Gee my die wysheid om te weet wanneer om te rus, te slaap, te oefen, te vra vir hulp en om hulp te gee. Gee vir my die wysheid om my tyd reg te gebruik. Ek erken en bely dat ek somtyds dink ek gaan nie cope nie. Ek bely dat ek soms twyfel in U en U wil vir my. Here, gee vir my die wysheid om U bo alles en in alles te vertrou. Help my om te bly glo dat U die groot Geneesheer is en dat daar deur U wonde vir my genesing is. Ek is lief vir U. Amen
Posted on: Sun, 15 Sep 2013 23:04:02 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015