Hoofartikel: Die ANC en die geval(le) Dina Pule Beeld Donderdag 22 - TopicsExpress



          

Hoofartikel: Die ANC en die geval(le) Dina Pule Beeld Donderdag 22 Augustus 2013 Wat ’n miserabele sirkus, dié gesoen en gedruk van oudminister Dina Pule Dinsdag deur vele ANC-diknekke in die parlement. Pule is die oudminister van kommunikasie wat haar kêrel toegelaat het om haar invloed tot sy finansiële voordeel en die belastingbetaler se besliste nadeel te misbruik terwyl hy en sy letterlik die wêreld vol gepollevink het soos twee tortelduifies in die lente. En toe sy uitgevang word, veral danksy ondersoekende joernalistiek deur die Sunday Times, ontken sy die bestaande verhouding op nasionale televisie. In haar algaande wilder jakkalsdraaie om tog net haar posisie en inkomste te behou het sy boonop gelieg vir die parlementêre komitee oor etiek en ledebelange, luidens dié komitee se verslag oor hierdie derderangse parvenu-spanningsdrama waarvoor die belastingbetaler nogmaals die gelag moet betaal. Toe word doodsdreigemente gemaak teen prof. Ben Turok, die komiteevoorsitter, toe hy haar behoorlik ondersoek. Kon sy nie daarvan weet nie? Toe Max Sisulu, speaker van die Nasionale Vergadering, haar Dinsdag die behoorlike skrobbering gee wat sy verdien, dring sy daarop aan om iets te sê. “Ek het altyd my bes gedoen, maar ek het foute gemaak. Jammer,” was die patetiese somtotaal van haar verskoning ná al die woordryke misleiding. Dis dié verskoning wat toe lei tot ’n gesoen en gedruk deur die een en ander in die ANC, asof dit die heldhaftigste ding ooit is om uitgevang te word. En daar lê die ding nou. Navrae oor verdere optrede deur die ANC word afwysend beantwoord deur Jackson Mthembu, nasionale woordvoerder, so asof die organisasie nie op sy vorige nasionale konferensie ’n witolifant-komitee geskep het om op te tree as ernstige ondersoeke na magtiges sloer nie. Die ANC kort woema in die stryd teen korrupsie. Die geval Dina Pule toon weer eens dat diegene vir wie die stryd teen korrupsie hul erns is, geen natuurlike tuiste in die ANC kan vind nie.
Posted on: Thu, 22 Aug 2013 11:40:28 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015