IN SY PLEK Lees Romeine 5:6-12 “ …Christus (het) vir ons - TopicsExpress



          

IN SY PLEK Lees Romeine 5:6-12 “ …Christus (het) vir ons gesterf toe ons nog sondaars was…” (8). Julie 1794 was ’n krisisjaar vir Frankryk. Die opstand teen die koning en die adel van Frankryk, het onder Robbespiere en Danton, ’n hoogtepunt be­­reik. Dit was ook die jaar van die skrikbewind. Baie gewone burgers is oor allerlei sake aan gekla en tot die dood veroordeel. Een so ’n ou man, Jean Simon de Loiserolle, is in die tronk gestop. Hy het nie geweet sy seun, met dieselfde naam, is in die­selfde tronk opgesluit nie. Die seun sou die vol­gen­de oggend onthoof word. Terwyl die ou man in die tronk rondsoek na bekendes wat dalk ook opgesluit is, kom hy op sy slapende seun af. Oorweldig deur droefheid toe hy sy seun sien lê, kniel hy by hom om hom wakker te maak. Hy trek sy hand, waar­mee hy sy seun wou wakkerskud, terug. Hulle het dieselfde naam, besluit hy. Móre­oggend neem hy sy seun se plek in. Heel nag waak hy by sy slapen­de seun. Die volgende oggend word die seun se naam deur die tronkwag geroep. Die ou man spring dadelik op en bied homself aan. Op pad na die guil­lotine toe, beweeg hulle deur die registerkantoor waar die name nagegaan word. “Jean Simon de Loiu­serolle, 37 jaar oud!” roep die soldaat agter die tafel. “Dis ek” antwoord die ou man, “maar ek is 73 nie 37 nie.” Sonder om ’n oog te trek verander die soldaat die 37 na 73. Met die onthoofding van die ou man word korte mette ge­maak. Intussen het die seun wakker geword. Hy sit verskrik regop en verwag enige oomblik om geroep te word. ’n An­der gevangene vertel hom van die ou man wat heelnag by hom gewaak het en toe sy naam ge­roep is, homself in sy plek aangebied het. “Maar ek is Jean Simon de Loiserolle!” roep hy uit. Hy besef sy pa het sy plek geneem. Vir drie dae wag hy in spanning oor wat met hóm gaan gebeur. Op die derde dag is die skrikbewind skielik beëindig. Danton het teen Robbespierre gedraai en hóm laat onthoof. Die gevangenes is almal vry­gelaat. As vry man stap die seun uit die aaklige tronk die sonskyn binne. Die gedagte hy is vry omdat sy pa sy plek geneem het, oorweldig hom so, dat hy ten aanhore van die ander vrygelate ge­vangenes ’n eed neem: Die res van sy lewe gaan hy so deur­bring dat dit ’n eer sal wees vir sy pa, wat so ’n groot, offerdaad vir hom gedoen het. Dit is die passie wat in Paulus se hart gebrand het en hom aangevuur het om Jesus met hart en siel te dien: “…ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal.2:20). Hierdie wete moet ons aan Jesus bind en ons vir Hom laat leef en werk. Ons ewige lewe is net aan Hom te danke! “Here, vandag dank ek U dat U in my plek gesterf het.”
Posted on: Sun, 30 Jun 2013 05:01:17 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015