Jou siening is persepsie, myne is tog waarheid WILHELM JORDAAN : - TopicsExpress



          

Jou siening is persepsie, myne is tog waarheid WILHELM JORDAAN : Volksblad Dinsdag 16 Julie 2013 “PERSEPSIE” is ’n slinkse woord wat gereeld in die openbare debat sy skelmstreke wys. Veral politici het ’n intieme verhouding met dié woordjie. ’n Politikus sê byvoorbeeld ’n opponent se siening oor ’n saak is “net ’n persepsie”. En bedoel daarmee die opponent se indrukke is vals, onakkuraat, verdraaid of moedswillig. Wat die politikus egter daaroor te sê het, is die onvervalste waarheid! Eintlik is ons almal skuldig daaraan: Ander mense het persepsies en jý het die wáárheid! Natuurlik sonder die insig dat jou waarheid ook net ’n persepsie is. Wat ons vergeet, is dat die oog waarmee ons sake so helder sien, onder die diktatuur van die psige is: Jy sien net wat jy bereid is om te sien of wat jy jouself wys maak om te sien. Die les van die Amerikaanse digter John Godfrey Saxe se speelse aftelrympie bly gepas – oor die ses swaksiende mans wat die wese van ’n olifant wou bepaal. Baie vry vertaal was hul “persepsies” só en só en só . . . • Nommer 1 het vlugtig oor die olifant se breë rug getas en met oortuiging verklaar: “Dié dier is breër as ’n skuur.” • Nommer 2, meegevoer deur die olifant se krullende tande, het ingenome verkondig: “Hou op redekawel. Dié dier is nes ’n sabel.” • Nommer 3 het peinsend en professoraal al om die olifant gedraal, oplaas die slurp bolangs bevoel en toe ’n nuwe insig uitbasuin: “Dis van kardinale belang: Dié dier herinner aan ’n slang.” Wat die aftelrympie leer, is dat ons almal ’n bietjie “swaksiende” is én uitgelewer aan ons beperkte en beperkende persepsies. • Nommer 4, ’n meester van haastige gevolgtrekking, het die olifant onder die knie beetgekry en dadelik eureka! gebulder: “Hou op droom! Dié dier is vanselfsprekend soos ’n boom.” • Nommer 5 het ywerig die olifant se oor bevoel, sy hand op sy hart gesit en ingenome verklaar: “Dis my gevoelte; dié dier bring ’n bietjie koelte.” • Nommer 6 het opgespring en die olifant aan die stert beetgekry. Toe die olifant met ’n getrompetter sy stert begin swaai, het hy uitgeroep: “Ek weet! Ek weet! Dié dier swiep soos ’n sweep!” Wat die aftelrympie leer, is dat ons almal ’n bietjie “swaksiende” is én uitgelewer aan ons beperkte en beperkende persepsies. Soos die olifant-aftasters verhef ons alte maklik deelwaarhede tot allerwaarheid. En dít word jou onwrikbare standpunt; jou “staanpunt” as’t ware. Dit is ’n lewensplig om te sorg dat ’n mens met belangrike lewensgoed altyd verruimende inligting en verhelderende perspektiewe opsoek. Miskien aan die hand van ’n credo: “Geen mens kan oor enige saak alles dink, sien, weet, sê en skryf nie. Daarom is ek bereid om my persepsies altyd te beskou as voorlopige, onakkurate indrukke wat gewysig behoort te word in die lig van nuwe inligting en ander perspektiewe.
Posted on: Tue, 16 Jul 2013 18:45:00 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015