KINGS IN DIE LEEUKUIL Dis nou of nooit Ellispark se 60 000 sal - TopicsExpress



          

KINGS IN DIE LEEUKUIL Dis nou of nooit Ellispark se 60 000 sal brul oor ‘onreg’ van uitsluiting Volksblad PIETER JORDAAN Vrydag 02 Augustus 2013 JOHANNESBURG. – Kan die Southern Kings die Leeus vandag op Ellispark klop? Wel, antwoord eers dié: Kan ’n gewone man ’n honger Leeu met sy twee kaal hande doodmaak? Op die veld is almal in vandag se tweede promosie-stryd toegegee nét mens, maar hier is die harde feite wat die Kings knap voor 17:00 uit die spieël sal aangluur. Hy is ’n span van die kus en effe ontuis op die Hoëveld, met sy staatmaker-losskakel en -senter beseer, met sy afrigter wat reeds laat weet het hy’s vort, met verlede week se nederlaag in sy gedagtes . . . en dit voor vandag se 60 000 brullende ondersteuners. Enige vrywilligers? Super-rugby se bestes sou dalk gedink het voor hulle antwoord. Johannesburg het meteens ontwaak en ’n oorweldigende see van wit en rooi wag om die Kings te intimideer en te ontmoedig. Die mense hier soek mos iets terug wat hulle voel van hulle gesteel is. Dit maak die Leeus nog lank nie immuun teen verloor nie. Maar die antwoord op die oorspronklike vraag: met hope dapperheid miskien, ja. Alle dapperes oorleef nie altyd nie, maar die Kings is beslis ’n dapper klomp. Vir Darron Nell se span gaan dit ’n super-poging verg om in Super-rugby te bly, met slegs ’n oorwinning van 8 punte of meer wat goed genoeg is. Dit is ’n stryd op die rand van ’n afgrond en as jy hier tuimel, is dit dóér tot onder. Op die skouers van die Leeus se losskakel, Elton Jantjies, weeg daar dus ontsettend baie. Hy is die verantwoordelikheid gegee om voor ’n reuse-gehoor in dié sleutelposisie besluite te neem wat die toekoms van Leeus-rugby kan beïnvloed. Sonder Demetri Catrakilis in húl midde is George Whitehead die Kings se dirigent, hoewel die onus dalk swaarder op die deurwinterde senterpaar van Waylon Murray en Ronnie Cooke rus om ’n verskil teen ’n gevaarliker Leeus-agterlyn te maak. Ruan Combrinck, Anthony Volmink en Stokkies Hanekom is die wapens waarmee die Leeus, in speeltoestande wat hul hardlooprugby dié slag sal bevorder, ’n skouspelagtige einde aan die Kings se Super-bestaan wil maak. In die skrums en in die lynstane, met JC Janse van Rensburg en Franco van der Merwe daar, is die Leeus ietwat beter as die Kings toegerus. Albei spanne spog met drie knap losvoorspelers elk. Dit is twee spanne wat kán, maar kyk tog vir oulaas mooi na hoe die spanlyste nou lyk, want die verloorder se dapperes sal volgende jaar iewers anders moet gaan dapper wees as hy dit in Super-rugby wil doen. Weet maar net: Ná ’n jaar in ’n droë wildernis, wil dié honger Leeus dit nie eens hoor nie. Leeus: Ruan Combrink, Deon Helberg, Stokkies Hanekom, Dylan des Fountain, Anthony Volmink, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Warren Whiteley, Derick Minnie, Jaco Kriel, Franco van der Merwe, Hendrik Roodt, Julian Redelinghuys, Martin Bezuidenhout, JC Janse van Rensburg (k). PLAASVERVANGERS: Robbie Coetzee, Martin Dreyer, Willie Britz, Warwick Tecklenburg, Guy Cronjé, Marnitz Boshoff, Chrysander Botha. Southern Kings: SP Marais, Hadleigh Parkes, Ronnie Cooke, Waylon Murray, Scott van Breda, George Whitehead, Shaun Venter, Jacques Engelbrecht, Wimpie van der Walt, Cornell du Preez, Darron Nell (k), David Bulbring, Kevin Buys, Bandise Maku, Schalk Ferreira. PLAASVERVANGERS: Charl du Plessis, Hannes Franklin, Steven Sykes, Devin Oosthuizen, Nicolas Vergallo, Wesley Dunlop, Shane Gates. Skeidsregter: Stuart Berry. Assistent-skeidsregters: Jason Jaftha, Marius Jonker. TV-skeidsregter: Shaun Veldsman. Afskop: 17:00
Posted on: Fri, 02 Aug 2013 21:38:56 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015