Kom dit by benoemings, toekennings en bekronings vir Hoogdrama, - TopicsExpress



          

Kom dit by benoemings, toekennings en bekronings vir Hoogdrama, wen ek al die pryse – as ek my jaarlikse verkoue kry. Oor sewe dae bou die spektakel op, deur vele hoogte- en laagtepunte, ‘n spanning-sage wat slegs met Wimbledon vergelyk wat opwinding en loutere kykstof betref. Dag Een en ‘n droë vuurbal vanuit Die Niet tref my reg in die gilgat van my agterkeel, klap my agteruit en fel my desmoers teen die grond. Nou hik en sluk ek stof, oogkaste brandende konkas, en ek moet luiperdkruip na die naaste kooi of moedersbors. Van nou af vergesel slegs gebaretaal my in my afreis na ellende – ‘n voorspel tot sterwenstonele waarby Shakespeare veel sou kon leer. Die universele gebarespel help verder ook om al wyer gehore te betrek, want volgende jaar, so sweer hulle, verkoop Big Concerts kaartjies: Dag Twee bars in Die Snotstorm los. Die histrioniese genies, gehoes en gehyg dryf oumense, vroumense, kinders en kanaries tot verre vlug en berading. Die plof-impak van my klankvoordrag word nie net gerugsteun deur verskeie steunklanke nie, maar ook deur buikgeluide wat dikwels vergelyk word met die Widor orrel-toccata. (The Unmerry Widor), afgewissel met Bach se brassery vir tuba, bassoon en fagot. Dis in hierdie ure wat moeders en voogde tieners op tik na my bring – sodat hulle kan sien wat ware lyding is, en hulle verlaat die toneel inderhaas - vernuwe en genees. Dag Drie begin Die Borsskoonmaak: Taai stukke gom wat as kliewende projektiele deur spontane spasmas deur my longe uitgewerp word. In hierdie uur vergader ook die topbestuur van Pratley, Bostik en Genkem, met notaboek en proefbuis, om met my te onderhandel vir formuleregte. Waar Ysland 333 woorde het om verskillende soorte sneeu te beskryf, het ek 666 definisies vir al die soorte snot en spoeg wat ek ruimskoots fabriseer, gepaard met oorinfeksies, verblindende hoofpyne, spierkrampe en talle ander hallelujasinasies. Dag Vier en Kouekoors breek aan – ek yl, ek ly, ek mymer en wandel astraal deur die sewende hel en Sewende Laan en alles is agterstevoor. Ek klink soos ‘n Rus, Rasputin, en my naam is Snaramlow. Einnaj Snaramlow: Hy wat spreek uit Job. My bed bly heelweek onopgemaak, en besaai met berge tiesjoes en toiletpapier, oral, sodat Saatchi & Saatchi dit dikwles as ‘n art installation deur Tracy Emin misken. En dit koop. Dag Vyf word ingelui deur tjello’s, bleek gebede, smeektaal en prewelinge, jellie en testamente. Dramastudente kom neem meesterklasnota’s in die gewyde sterfkuns, asook die trefkrag van minimalisme met klem op die impak van Die Enkele Snotnies – voorspel tot ‘n wissel-cadenza van hoese, proese, roggel en spoeg. Katarsis en Denouement. Dag Ses en kleur breek deur my wange, lig skimmel so effe in my oë , gevolg deur harp- en sitertone. ‘n Ligte pienk siektemimiek wat soldate laat ween. Dis die dag van tragiese kalmte en nuwe insigte. Met Dag Sewe breek die Fees van Weegskale aan. ‘n Ruim banket van flou rooibos en droë roosterbrood, om so my oorlewing en nuwe gewig te vier. Dis ‘n dag van strykkwartette en kleuterballette, vuurvreters en prysliedere, met dokters Phil, Möll en Williams (hy van die Pienk Pille) wat deurentyd blymoedig toetse doen. Geliefdes, my verkoueweek sou as ‘n mini-reeks op die Reality Channel verpak word– maar rolprentregte is nou skielik in die gedrang met Meryl Streep, Casper de Vries en Zwelinzima Vavi wat meedoënloos meeding om die omvang van my lyding grootskaals vir die wyedoek te vertolk. Geen mens weet hoeveel ek ly nie.
Posted on: Thu, 15 Aug 2013 08:13:26 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015