“Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons - TopicsExpress



          

“Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.” 1 KOR. 15:57 STRYD KOM VOOR OORWINNING Die Christen se lewe is al dikwels gelyk gestel aan ‘n veldslag of oorlog. Die stryd tussen goed en kwaad, reg en verkeerd, lig en duisternis is die algemene deel en lot van elkeen van God se kinders. Om so ‘n konflik te ontken, sal dit nie laat verdwyn nie. Die kwaad met al sy bose uitwasse is daar vir almal om te sien. Christene het van die bose magte niks te vrees nie, solank hulle die stryd daarteen in die Naam van Christus aandurf. Die tragedie is dat so baie mense in die aangesig van oorweldigende versoekings en stryd teen die kwaad, die geveg in hulle eie krag en met eie middele probeer aandurf. Die noodwendige gevolg is dat hulle eerlose neerlae ly. Om die magte van die Bose te kan oorwin, is dit noodsaaklik dat jy jou op ‘n groter mag moet beroep. Omdat jou hulpbronne onoereikend is, is dit noodsaaklik dat jy jou op die almag van God en die beskerming van die lewende Christus sal beroep. Hy het sy almag tot beskikking gestel van elke dissipel wat Hom in die geloof aanroep. Jy aanvaar hierdie Goddelike almag in die geloof. Wanneer die styd teen die Bose op sy heftigste is en jou geestelike verdediging besig is om te verkrummel, draai dan na die Here van jou lewe en laat die bewuswording van sy lewende teenwoordigheid van jou besit neem. Dan verslap die Bose sy greep en jy leef oorwinnend deur die krag van die Heilige Gees. Om jou egter “tot Jesus te wend” is veel meer as ‘n paniekerige opwelling van kragtige emosie. Dit is ‘n geloofsdaad wat jou in staat stel om triomferend te getuig: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” ROM. 8:37 Sonder stryd, geloofstryd, kan daar nie sprake van oorwinning wees nie.
Posted on: Thu, 07 Nov 2013 16:01:56 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015