Mantashe: Die ANC is ‘Bybels’ Volksblad MARYNA - TopicsExpress



          

Mantashe: Die ANC is ‘Bybels’ Volksblad MARYNA LAMPRECHT JOHANNESBURG. – Die drieparty-alliansie is soos die Heilige Drie-eenheid, het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, gister in Wedela buite Carletonville gesê. “Die organisasie is Bybels, met alle respek gesê. “Kyk na die getal drie, die Heilige Drie-eenheid en die drieparty-alliansie. Die nommer drie is baie belangrik, so ook die nommer 12. Jesus het 12 dissipels gehad en die ANC het in sy eerste 100 bestaansjare 12 presidente gehad.” Mantashe was die hoofspreker op ’n politieke byeenkoms van die National Union of Mineworkers (NUM) in die Carletonville-streek. Honderde inwoners het in ’n stampvol Wedela-gemeenskapsaal byeengekom om na hom te luister. “Ons het ook ons eie Moses,” het hy gesê. “In 1993, ’n week ná die sluipmoord op Chris Hani, is O.R. Tambo dood, waarna Nelson Mandela ons in 1994 deur die rivier gelei het (soos Moses die Israeliete deur die Rooi See uit Egipte gelei het).” Mantashe het die ANC se suksesse gelys en gesê dít is waarom Suid-Afrikaners in die 2014-verkiesing vir sy party moet stem. “Dít is die storie wat ons vir die mense gaan vertel. Ons gaan nie sê: ‘Stem vir die ANC omdat dit lekker is om dit te doen’ nie, nee, ons sê stem vir die ANC omdat daar ’n goeie storie is om te vertel oor die afgelope 20 jaar.” Numsa, die grootste enkele vakbond in die drieparty-alliansie, is deel van die anti-Zuma-faksie en dreig om nie volgende jaar vir die ANC te stem nie. In die Carletonville-streek het die NUM die afgelope jaar of wat duisende lede aan Amcu afgestaan wat verdere verliese vir die ANC in 2014 kan beteken. Mantashe het gesê mense moenie dink hulle kan die drieparty-alliansie vernietig nie. “Dit is nou hoogmode vir mense binne die organisasie om ander op te sweep in die hoop dat daar uit die karkas van die organisasie iets nuuts na vore sal kom. Al wat uit ’n karkas kan kom, is ’n maaier wat ’n vlieg word met ’n kort lewensduur. Dit staan nie ’n kans teen die dier nie. Dié mense wil op die karkas van die ANC teer.” Hy het uitgevaar teen mense wat die ANC kritiseer. “Hulle moet na die feite kyk en nie kritiseer omdat hulle nie van Zuma hou nie of nie van Mantashe hou nie of bloot omdat dit mode is om die ANC te kritiseer nie. “Jy kan nie alliansie-vennote hê wat net daar is in die goeie tye, maar lede van die opposisie raak wanneer daar probleme is nie.”
Posted on: Sun, 03 Nov 2013 20:11:13 +0000

Trending Topics




© 2015