My depressie … en my God : Die kerkbode Geskryf deur: ADMIN Waar - TopicsExpress



          

My depressie … en my God : Die kerkbode Geskryf deur: ADMIN Waar is God in my depressie? Het Hy my verlaat? En hoekom voel ek so skuldig? Is dit dalk ék wat Hóm verlaat het? En hoekom moet ek pille drink – Hý sal my mos genees! JB ROUX het met depressielyers en kenners gesels. En ook navraag gedoen oor die rol van die predikant in die lewe van ’n depressielyer. Ek ontvang reeds 16 jaar lank behanding vir kliniese depressie, maar kry steeds soms depressiewe episodes. Ek was altyd gelowig, en hoewel ek steeds in God glo, voel dit asof ek van Hom weggedryf het. Dit is asof ek ná elke depressiewe episode weer God se teenwoordigheid aanvoel, maar ook ’n bietjie van my vertroue in Hom verloor het. “Dit is moeilik om ’n major-depressiewe episode te beskryf. Die uitsigloosheid, die volkome gebrek aan hoop, die totale alleenheid en die afgeslotenheid van die mense rondom jou, die intense begeerte om net nie meer te wil leef nie, die algehele gebrek aan energie – dit alles is ’n hel opsigself. “Die ergste is die besliste oortuiging, die sékerheid – al weet ek dat ek verkeerd is – dat God my verlaat het. Hoewel verskillende depressielyers verskillende ervarings het, dwing die getuienis hierbo ’n mens om ook uit ’n Christelike hoek na depressie te kyk. Omdat dit deels ’n emosionele siekte is, en geloof in God deels ’n emosionele ervaring is, het depressie straks ’n groter uitwerking op ’n Christen se geloofslewe as baie ander siektes. “God het my verlaat” Volgens prof Piet Oosthuizen, ’n psigiater op Stellenbosch en skrywer van die boek Ontsnap van depressie, is ’n gevoel van volkome verlatenheid en eensaamheid tydens ’n depressiewe episode baie algemeen. “Baie mense ervaar ’n ‘gediskonnekteerdheid’ van God. Pasiënte sal tipies sê: ‘Ek bid teen die plafon vas.’ Wanneer ander mense hulle verkwalik en beweer dat ‘ware’ gelowiges nie depressie kry nie – wat natuurlik twak is – maak dit alles soveel moeiliker.” Dr Pierre Goosen van die Sinodale Kommissie vir Predikantebegeleiding in die Sinode van Wes-en-Suid-Kaapland stem saam dat dit bykans altyd vir ’n Christen wat met depressie gediagnoseer is, voel dat God hom of haar verlaat het. “Depressie word ook as ’n gemoedsiekte beskryf. Ervarings soos geluk, vrede en sinvolheid wat bydra tot ’n ‘goeie’ gemoedstoestand en baie te make het met Christene se belewing van God se nabyheid, is tydens depressie afwesig. Dit skep die illusie dat God ‘van my vergeet het’,” sê dr Goosen. “Maar sodra die depressie met die regte medikasie onder beheer gebring word, verdwyn daardie belewing van verlatenheid en die gevoel dat God sy rug op jou gekeer het.” Skuldgevoelens Skuldgevoelens is nóg ’n rede waarom baie Christene depressie anders as nie-Christene ervaar. “Kliniese depressie is ’n fisieke toestand,” sê dr Goosen. “Dit het te make met die wanbalans van oordragstowwe in die brein. Mediese behandeling fokus daarop om hierdie wanbalans te herstel. Wanneer dit dan só gebeur, verdwyn simptome soos bedruktheid en verlatenheid en moedeloosheid. “Maar wat medikasie nié kan verander nie, is die aanleidende of bydraende faktore. Om dit te hanteer, het die pasiënt berading, terapie, begeleiding of afrigting nodig. Of ’n ander ingrype wat op gedrag en insig fokus. “Een van die aanleidende of bydraende faktore kan die persoon se verstaan van God wees. Iemand met ’n ongesonde godsbegrip kan sóveel druk op hom- of haarself plaas, deurdat hy of sy oor die geringste dinge­tjie skuldig of minderwaardig voel. Dit kan die persoon se gedrag beïnvloed – wat weer tot die wanbalanse en depressie aanleiding kan gee. “Dit is dus noodsaaklik dat die hulpverlener – of dit nou die psigiater, die sielkundige, die dominee of die maatskaplike werker is – aan die pasiënt se lewens- en wêreldbeskouing en persoonlike omstandighede aan­dag gee. ’n Spanbenadering word daarom aanbeveel,” aldus dr Goosen. Prof Oosthuizen sê: “Onvanpaste skuldgevoelens is ’n tipiese simptoom van depressie. En my indruk is dat gelowiges dit dikwels nog meer intens as ander ervaar. Gelowiges voel dikwels skuldig oor hulle siekte vanweë die belaglike persepsie dat hulle nie depressief mág wees nie. “Vir gelowiges is God en hulle geloof ’n inherente deel van hulle lewe en daarom ook van hulle siekte. Dit is uiters belangrik vir psigiaters en sielkundiges om die konteks van die pasiënt se lewenservaring te begryp en te integreer in hulle benadering tot die behandeling.” “God sal my gesond maak” ’n Mens hoor dikwels dat iemand wat met depressie gediagnoseer is, besluit om nie medikasie te neem nie “omdat God my gesond gaan maak”. “Dit is ongelukkig só,” bevestig prof Oosthuizen. “Sommige mense, selfs sommige dokters, glo dat God alles moet beter maak deur wonderwerke – maar dan ook net die wonderwerke wat by hulle eie beskouing pas. Ons glo tog dat God alles gemaak het – en daarom sekerlik dokters en die medisyne ook? “Ek glo dat ’n mens altyd die reg het om God te vra om jou te help, maar dat jy nie die reg het om voor te skryf hóé dit gedoen moet word nie. As jy siek is en jy vra God se hulp, watter reg het jy om dan daarop aan te dring dat die hulp op die manier presies wat jy dit wil hê, moet kom? God help ’n mens tog dikwels op maniere wat jy nie kon voorsien nie. En partykeer stuur God jou na ’n dokter toe.” Dr Goosen sê: “Die algemene weg wat ’n hulpverlener inslaan met iemand wat in nood of krisis is, is om daardie persoon tot nuwe insig te probeer begelei. Dit beteken dat daar tyd met mekaar deurgebring word – die ruimte waarin ek en daardie mens ’n vrymoedige gesprek met mekaar het, en saam tot nuwe ontdekkings kom wat hom of haar tot nuwe insig en hoop en positiewe gedrag kan stimuleer. “Iemand wat ’n depresiewe episode beleef, is nie vir so ’n proses vatbaar nie. Daarom moet hy of sy sag en menslik, maar ferm hanteer word. Die primêre versorger of diensleweraar in so ’n geval is gewoonlik die mediese praktisyn. Laasgenoemde is in die beste posisie om die nodige dissipline toe te pas sodat die pasiënt die toepaslike medikasie neem. “Die leraar se taak is om die persoon te onder­steun,” sê dr Goosen. “Om hom of haar te verseker dat God – deur die dokter as in­stru­ment te gebruik – ge­nesing bring. Die le­raar moet ’n atmosfeer van vertroue en vei­ligheid skep, sodat die pasiënt se angstigheid nie ver­erger word nie.” Pastorale leiding Wat sê ’n leraar vir iemand wat voel dat God hulle “versaak” het, dat niks meer sin maak nie? Dr Goosen sê die leraar moenie angstig raak oor sulke opmerkings nie, en beslis nie dink dat die persoon verlore is, of sy of haar geloof “verloor” het nie. “Hiér moet tog nie ‘bearbei’ of ‘bekeer’ word nie! Wat nodig is, is ondersteuning en versekering. Dit is nie die tyd om enige teologiese vraagstuk aan te spreek nie, maar om op pastorale wyse van God se liefde te getuig – en dit daar te laat. Die leraar se fisieke nabyheid beteken waarskynlik meer as enigiets wat hy of sy sou kon sê. “Die godsprobleem is nie die siekte nie,” sê dr Goosen, “dit is bloot ’n simptoom van die siekte. Herstel lê op ’n fisieke en nie op ’n teologiese vlak nie. Die grootste probleem wat die leraar gaan hê, is waarskynlik sy of haar ongemak met die simptome wat die pasiënt openbaar, en die (pastorale) drang om dit te wil omkeer, sodat die persoon verligting kan beleef. Die leraar word dan gekonfronteer met sy of haar onmag, met die onvermoë om ’n onmiddellike uitkoms te fasiliteer.” - JB Roux is ’n vryskutjoernalis. Jeanne Els se verhaal Jeanne Els (54), bekende joernalis en skrywer, sê sy het altyd ’n depressiewe geneigdheid gehad, al was sy reeds as kind dol oor die lewe. In 2006 het sy ’n ernstige major-depressiewe episode beleef, wat deur veral werkstres veroorsaak is. Haar depressie is deur medikasie onder beheer gebring en sy het haar lewensomstandighede verander deur onder meer uit haar pos by ’n tydskrif te bedank en as vryskut te begin werk. Sy bied gereeld praatjies oor depressie aan. “Ek is nie noodwendig deur my ouers beïnvloed om in God te glo nie, maar ek het van kleins af ’n sterk oortuigdheid van God se bestaan,” vertel Jeanne. “Selfs tydens ’n depressiewe episode twyfel ek nie aan God se bestaan nie. En anders as baie ander depressielyers, het ek nooit gevoel dat God my ‘verlaat’ het wanneer ek depressief is nie.” Jeanne onthou hoe sy tydens haar depressie beplan het om haar lewe te neem. “As gelowige het ek vas geglo dit was oukei met God. Ek weet nou dat ek as gevolg van die depressie nie logies gedink het nie – en dat God dit verstaan. “Ek is huiwerig om te sê dat God ’n ‘doel’ gehad het met my depressie. Maar daarna hét daar goeie dinge gebeur. My pa het sy lewe geneem toe ek 13 was. Ek verstaan nou dat hy depressief was. En ek weet dat die siekte ’n mens dinge kan laat doen wat jy normaalweg nooit sou oorweeg nie. “Ek glo ook nie ek sou boeke geskryf het as dit nie vir my depressie was nie. En deur met mense oor depressie te praat, kan ek hulle inspireer. En ek kan onkunde en vooroordele jeens depressie uit die weg help ruim. Dit is ook asof ek ná my ‘noue ontkoming’ met groter oorgawe leef. “Ek leef nou gesonder: Ek oefen gereeld en ek vermy stres. Voor 2006 wou ek nie eens hoofpynpille drink nie, maar nou sal niks my daarvan oortuig om nié my medikasie te neem nie. Ek wil ­nooit, nóóit weer in daardie gat, wat amper my lewe vernietig het, beland nie.”
Posted on: Mon, 23 Sep 2013 21:02:30 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015