OORDENKING Woensdag 7 Augustus Werp jou brood op die water - TopicsExpress



          

OORDENKING Woensdag 7 Augustus Werp jou brood op die water Prediker 11: 1-3 Die Disney rolprent “Lion King” sal altyd onthou word vir die konsep van die kringloop van die lewe. Die oue word met die nuwe vervang. Soos klokslag volg lente op winter. Ons as mense voel net meer opgeruimd en vrolik. Die verandering van seisoene bring in hierdie tyd nuwe hoop. In die agterkop is dat herfs en winter weer volg, maar vir eers is ons vrolik en bly. Ons kon nie presies voorspel wanneer die winter verby gaan wees nie. Daar kan selfs in Oktober stuiptrekkings van winter wees. Dit is deel van die onsekerheid wat saam met die sekerheid gaan. Hoe dit ookal mag uitspeel, ons is gewoond aan die ritme van die lewe. Ons verduur die ongemaklike en geniet die voortreflike. Die ritme van die lewe is egter groter as net die verloop van seisoene. In mense terme sou ons kon praat van geslagte. Een geslag volg die volgende geslag op. Hierdie opeenvolging neem tussen twintig en dertig jaar. Jonk word volwasse, raak vol ervaring en dan oud. In die gedeelte in Prediker word verwys na die siklus van die lewe, saam met die onsekerheid wat altyd teenwoordig is. Wysheid by die mens beteken om berusting te vind daarin dat niks finaal voorspel kan word nie. Sodra iets gebeur het, is daar ook geen keer aan nie. Ons as gelowiges word daarom opgeroep om voluit te lewe. Om daagliks niks te ontsien in die moeite wat ons doen nie. Werp jou brood op die water beteken doen wat jy vind om te doen. Jy weet nie hoeveel en wanneer jy sal terugkry nie. Juis daarom moet jy ook nie al jou besittings in een mandjie sit nie, jy weet nie wat hou die toekoms in nie, al is daar ‘n ritme en ‘n siklus. Ons sien somtyds net die resultate, soos die reën en die boom wat lê. Waar is jy in jou gemoedstoestand? Is dit herfs of dalk winter in jou hart? Tot die dag van ons dood is ons deel van die siklus van die lewe. Maak nie saak hoe oud jy is nie, vat elke dag weer nuwe kanse! Lewe in die lente van die opstanding wat ewige vreugde in ons harte plaas. Neem kanse in alles wat jy doen, dalk kom dit sommer gou terug na jou. Werp jou brood op die water. Dr Johan Otto, Premiermyn, Cullinan
Posted on: Wed, 07 Aug 2013 05:05:43 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015