RUBRIEK Sportpourri: Toe SA sport nog sport was JOE VENTER : - TopicsExpress



          

RUBRIEK Sportpourri: Toe SA sport nog sport was JOE VENTER : Volksblad Vrydag 28 Junie 2013 Suid-Afrikaanse sport was nog nooit in so ’n warboel – ’n mens wil amper sê gemors – soos vandag nie. Waarom weet ’n mens nie, maar jy kan raai. En die antwoord kom altyd daarop neer dat wanorde heers. Jy wonder wat sou van die sportbase wat nie meer saam met ons is nie, gesê het as hulle van vandag se chaos moet hoor. So ’n raps minder as ’n kwarteeu gelede het wyle dr. Anton Rupert die Sportfederasie gestig. Hy het mense aangestel om sport te bevorder. In ’n boek wat die Sportfederasie gepubliseer het, is geskryf die Suid-Afrikaner is in wese ’n avontuurlustige mens, wat vir die buitelewe lief is. Die rol van sport word beklemtoon. Hoe wonderlik die ervaring is wat jy opdoen. Niks het verander nie. Waarom dan die gemors waarin ons sport vandag verkeer? Dalk het dit verander toe vaste sportseisoene weggeval het; toe dit nie meer georden word nie, en toe geld ’n ál groter rol begin speel het. Ek onthou hoe ons selfs op laerskool ’n seisoen gehad het om kennetjie te speel en toe dit albastertyd was. Ek onthou hoe ons selfs op laerskool ’n seisoen gehad het om kennetjie te speel en toe dit albastertyd was. Een seisoen het geëindig met die Suid-Afrikaanse atletiek- en fietsry-kampioenskappe gedurende die Paasnaweek. Die week ná Paasmaandag het die eerste rugby-oefeninge begin. Die vyf of sewe Suid-Afrikaanse rugbykeurders het saamgetrek, die Springbokspan gekies en dan ’n afrigter aangewys. “Daar is jou span. Dit is die beste. Vat hom en gaan wen.” En dit het gewerk. Meer as ’n halfeeu lank was die Bokke die beste rugbyspan ter wêreld. Die Franse het ons in 1958 in ’n reeks van twee toetse geklop en in 1963 het die Wallabies die reeks van vier toetse gedeel. Origens was ons die kampioene. Dieselfde was die geval met ons atlete, sokkerspelers, tennisspelers en -speelsters en die res. Elke span wou wen. Deesdae wil te veel ouens ’n eiertjie lê voordat ’n span gekies word. Die belangrikste was dat klubs en provinsies jaarliks vergader het en die lede die bestuur gekies het – sonder inmenging van buite. Daar was wel ’n Suid-Afrikaanse Olimpiese en Nasionale Spele-vereniging, wat nie voorskriftelik opgetree het nie. Dit sou aanmatigend vir ’n Gideon Sam wees om aan atlete te sê: “Julle kan nie na die of daardie byeenkoms gaan nie, want ons erken julle nie.” Frank Braun was jare lank die voorsitter van die Olimpiese komitee en Lilian Francis (’n baie kwaai tannie) net so lank sy sekretaresse, maar jy het nooit gehoor dat in hul kantore gedreig, beledig of baklei word nie. Hofsake was ongehoord. En daar was altyd geld om die atlete na die groot byeenkomste te stuur . . . al het dit soms swaar gegaan. Die Suid-Afrikaanse stoeispan is byvoorbeeld in 1954 met twee vegters vir die Statebondspele uitgedun, maar die ses bestes het gegaan . . . en almal goud gewen. Die bestes in Suid-Afrika is deur die Randse Sportskrywersvereniging vereer en niemand het die keuses bevraagteken nie. Kon ook nie juis anders nie, want die bestes ís gekies. Dit sluit in Neil Adcock, Eddie Barlow en Jack Cheetham (krieket), Esther Brand, Gert Potgieter, Paul Nash en Hannes Botha (atletiek), Gary Player en Bobby Locke (gholf), Hennie Muller, Dawie de Villiers en Johan Claassen (rugby), Joan Harrison, Karen Muir en Ann Fairlie (swem), Angela Harrison (hokkie), Willie Ludick en Vic Toweel (boks), Sandra (Reynolds) Price, Renee Schuurman en Annette van Zyl (tennis), Tiger Wright (perdewedrenne) en Snowy Walker (rolbal) om enkeles te noem. Die nasionale sportdrag was ook eenvormig: Alles groen en goud met die Springbokkie neffens die hart. Nou moet ’n komitee oor alles besluit. Eenstemmigheid ontbreek. Voordat die gestry nie gelos word nie, sál daar probleme wees en die deelnemers aan die kortste ent trek.
Posted on: Sat, 29 Jun 2013 09:19:47 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015