Regstellende aksie: “Dít was nie die ooreenkoms nie” sê Pik - TopicsExpress



          

Regstellende aksie: “Dít was nie die ooreenkoms nie” sê Pik Botha Posted by Phillip Bruwer Pik Botha Die huidige toepassing van regstellende aksie was nie die bedoeling van die ooreenkoms wat in 1994 tussen spesifiek die toenmalige regerende party, die NP, en die ANC bereik is nie. Dít is die mening van oudminister van buitelandse sake, Pik Botha, wat Donderdag aan ʼn gesprek oor regstellende aksie in Pretoria deelgeneem het. Botha het saam met ander kenners oor die onderwerp van regstellende aksie oor die plek van regstellende aksie in Suid-Afrika gedebatteer. Rabelani Dagada, van die Wits Business School in Johannesburg, en dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, het aan die debat deelgeneem. Volgens Botha het die ANC die ooreenkoms wat in 1994 bereik is, verbreek. Hy stel hierdie standpunt ook duidelik in dr. Hermann se nuutste boek, Regstellende trane: Waarom verteenwoordigendheid nie gelykheid is nie (uitgegee deur Kraal Uitgewers). Hy reken dat daar nie ʼn nuwe grondwetlike bedeling in Suid-Afrika tot stand sou gekom het as die ANC destyds daarop aangedring het dat die bepalings van die Wet op Gelyke Indiensneming en die manier waarop dit toegepas word, deel van die Grondwet moes wees nie. Hy beklemtoon dat die bedoeling in die onderhandelinge was om die agterstand en benadeling wat deur apartheid veroorsaak is, te remedieer. “Maar ons het nie ingestem dat daar vir die ongeregtigheid van die verlede gekompenseer moes word deur die skepping van onreg in die hede nie,” verduidelik Botha. “Diskriminasie teenoor jong mense wat niks met apartheid te doen gehad het nie, was beslis nie deel van die verstandhouding waarop die NP en die ANC ooreengekom het nie. Ook nie diskriminasie teen wit, bruin of Indiër mense in die algemeen nie,” gaan Botha verder. “Die ANC se kwota-obsessie kom neer op ʼn verwerping van kundiges wat ʼn stewige bydrae kan lewer om vaardigheidsopleiding onder swartes te bevorder. Die boemerang-effek van die Wet op Gelyke Indiensneming is dat massas swartes steeds onopgelei en werkloos is en dat die land se ekonomiese vooruitgang ernstig bedreig word deur ʼn gebrek aan vaardigheid – wat miljoene meer swartes raak as wittes.” Botha hou vol dat ʼn “spontane, informele maar diepsinnige gesprekvoering tussen leiers van alle rasse” nodig is sodat daar oor die pad vorentoe ooreengekom kan word. In sy nuutste boek oor regstellende aksie (Regstellende trane: Waarom verteenwoordigendheid nie gelykheid is nie) gesels dr. Hermann met mense wat weet wat dit beteken om weens die kleur van hul vel benadeel te word. Hy klop ook aan by leiers wat by die 1994-onderhandelingsproses betrokke was (insluitende oudpresident F.W. de Klerk en IVP-leier Mangosuthu Buthelezi) en vind uit hoe regstellende aksie in die Grondwet inpas en wat die ooreenkoms ten opsigte van regstellende aksie tydens die onderhandelinge was. In dié boek vergelyk dr. Hermann twee uiteenlopende pole van regstellende aksie – een wat tot trane lei en een wat tot vreugde kan lei – en steek sodoende die debat oor regstellende aksie weer aan die brand met harde feite. Die alternatiewe model vir regstellende aksie is in Julie in Kaapstad bekendgestel.
Posted on: Thu, 15 Aug 2013 18:20:00 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015