Rubriek: Frost, ‘footy’ en die pienk Bulle JOE - TopicsExpress



          

Rubriek: Frost, ‘footy’ en die pienk Bulle JOE VENTER Volksblad SJOE, ’n liederlike klomp houe het ons sport die afgelope week getref. Dit het verlede week – nee, eintlik al vroeër – begin toe die klein outjies van Sri Lanka (in die Suid-Afrikaanse geskiedenis Ceylon waar die Boere-krygsgevangenes in die Anglo Boereoorlog harde arbeid moes gaan verrig) ons in die eerste twee eendag-krieketwedstryde weer swaar laat leef het. Dit was ’n gevoelige slag, maar so half te wagte, want hulle was nog altyd groter as ons in die kort weergawe van die spel. Ons atlete, swemmers en selfs ons sewesrugbyspan het in die buiteland swak vertoon. Om alles te kroon kon ons nie onder die voorstes eindig nie in die een sportsoort waar ons met die beste kan saamgesels: Gholf. Daar is gewoonlik darem een of twee Suid-Afrikaners wat enduit in die grotes met die voorste spelers meeding. Spelers soos Bobby Locke, Gary Player, Retief Goosen, Ernie Els, Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel en Trevor Immelman se name pryk op die vernaamste trofeë, maar vanjaar het hulle in hul afwesigheid geskitter. En ons kan maar die naam van Nicky Price op die lysie byvoeg. Hy het weliswaar vir die destydse Rhodesië gespeel, maar was ’n Springbok. Maar dalk, net dalk, kan David Frost môreaand gholf se treurmare beëindig deur die Britse Ope vir seniors op Royal Birkdale te wen. In die ou taal was dit so 20 myl (32 km) van dié baan dat een van die wêreld se gewildste sanggroepe, die Beatles, die eerste keer in ’n woonstelletjie in Liverpool begin lawaai het. ’n Goeie laaste twee rondes kan Frostie ook laat vergeet van die trouprobleme wat die afgelope ruk dreig om sy loopbaan van koers te druk en eerder “yeah, yeah, yeah!” te laat skreeu. Dit is lekker om te weet dat een van ons baie bekende oudspelers op Royal Birkdale is en vir ons sal vertel wat die spelers aanvang. Denis Hutchinson, wat ’n halfeeu gelede die Suid-Afrikaanse Ope as amateur gewen het, doen op die TV verslag oor die toernooi. Die grootste hou op die krop van die maag was egter vir die Cheetahs. Geen span wat twee drieë teen geen druk, verdien om ’n wedstryd te verloor nie. Dit bewys weer die stelling van wyle Dok Danie Craven wanneer hy van die “volledige voetballer” gepraat het. Dit is die ou wat nie net drieë kan druk nie, maar ook kan têkkel en hol en dalk ook kan skop. Hy kon ook na die “volledige skeidsregter” verwys het: Een wat altyd die regte beslissings vel. Hopelik gaan die Superreeks-beslissings die een of ander tyd reggestel word. Die uitspeelwedstryde om te beslis wie van die Leeus of die OP Kings aanstaande jaar groot rugby gaan speel, hoort eintlik nie op die program nie. As ’n mens na die getal spelers, toeskouers en ondersteuners kyk, verdien Australië nie om vyf spanne in die reeks te hê nie. Nou gaan óf die hele Gauteng (van Vryburg in die weste tot Nelspruit in die ooste, en van Pietersburg in die noorde tot Vereeniging in die suide) óf die hele kusstrook (van KwaZulu-Natal tot duskant die Kaap) net een span in die Superreeks hê – hetsy die Blou Bulle of die Haaie. Afhangende of die Leeus of die Kings uitgeskakel word. Húl streke speel rugby en nie ander afwykings daarvan, dertienman-rugby of footy, soos in Australië nie. Footy is eintlik die Aussies se grootste teenstander vir sokker. Solank die onheilige alliansie in ons Superrugby voortduur, sal Suid-Afrikaanse spanne die kortste loot trek. In die stemmery was dit altyd twee lande teen een. Hopelik hoef die Bloues nie ná vandag se kragmetings die lang tog aan te pak nie. Soos Willem van Drimmelen, gewese gholfomroeper, sê: Jy koop nie vir ’n dowe ’n radio of vir ’n blinde ’n grootskerm-TV nie en jy speel nie in die halfeindronde van die Superreeks in pienk klere nie.
Posted on: Fri, 26 Jul 2013 20:48:47 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015