SPORTPOURRI Cheetahs kom só mikpunte na Volksblad JOE - TopicsExpress



          

SPORTPOURRI Cheetahs kom só mikpunte na Volksblad JOE VENTER Vrydag 12 Julie 2013 ONS het vir Cheetah-rugby mikpunte gestel en ons stoutste verwagtings is oortref. Só het Basie Verster gesê ná die Cheetahs se goeie oorwinning oor die Blues waarmee hulle hul plek in die Superreeks se uitspeelrondes beklink het. Basie is ’n bestuurslid van Vrystaat-rugby en ’n man wat self diep spore in die provinsie se rugby getrap het. Hy het gesê sy broer, Harold, grootbaas van Cheetah-rugby, het met alle rolspelers gesels én voordat die eerste bal in vanjaar se reeks afgeskop is, het hulle die mikpunte gestel. Die eerste mikpunt was om beter as in enige vorige jaar te vaar en om minstens in die boonste helfte op die puntelys te eindig. Die doelwit is behaal. Maar die werk is nie klaar nie, sê Basie. Die Cheetahs het nou getoon dat hulle op elke gebied – en met ’n baie kleiner begroting as ander Superspanne – kan presteer. Nou is die doelwit om ook in die uitspeelrondes hul stempel af te druk. Daar is natuurlik – soos maar altyd die geval is – die klomp doemprofete wat vir jou vertel die Cheetahs het in vanjaar se reeks nou hul Superrugby-plafon bereik. Vir Adriaan Strauss en sy makkers is die uitdaging nou om hulle stil te speel. En hulle kan! Dat soveel knap spelers jaarliks uit die Cheetah-rugbyfabriek kom, bewys dat rugby hier gesond is. Dit is daarom so jammer dat die orkes wie se musiek die manne moes laat dans verlede week makeer het. Ons het dit al voorheen gesê, maar herhaal dit weer: Die spelers is soos ’n klomp dansers en die toeskouers ís die manne en vroue wat die musiek moet verskaf om lekker te kan riel. Hulle was nie laas Saterdag in die Vrystaatstadion nie. Of liewers – nie genoeg van hulle nie. Goed, die vakansie het seker ’n paar weggehou, maar . . . Jannie Moolman, bekende sanger, het juis op die Vryfees vertel hoe ’n groot bydrae die Vrystaat – hierby kan mens Griekwas voeg – se bydrae tot ons land is. Dit is nou wat sportlui én kunstenaars betref. Van die Vryfees gepraat: Snaaks hoe ’n mens se pad ’n ander loop kan neem. Soos Maandag met die opening van vanjaar se fees. Laurika Rauch, Karen Zoid en Dorothy Masuka het opgetree. Die 78-jarige Masuka het die program met die liedjie My Yidishe Mama ingelui. Dit herroep n sportstorie van ’n ander aard. Hier rondom 1960 het Sophie Tucker, een van die eerste werklike grotes van musiek Suid-Afrika besoek. Sy het in die Empire-teater in Johannesburg opgetree. Die nuusredakteur van die destydse Die Transvaler het in die nuuskonferensie gevra wie met haar ’n onderhoud sou gaan voer. Niemand wou nie, toe bied Jors Troelie aan om te gaan. Tucker het in die Hotel Carlton, toe Suid-Afrika se beste, tuisgegaan. “I am actually ’n sports writer, but nobody in the office was prepared to write about your visit. Pardon me, if I ask silly questions,” sê ek met die intrapslag. Sy het my in ’n diep leunstoel laat sit en gesê: “Skryf . . .” Tucker het geweet wat koerantlesers wil lees en dikteer toe sowaar die hele berig. Met die groetslag het sy aan my ’n langspeelplaat oor haar lewensverhaal gegee en toe ’n wonderlike storie vertel. Oor hoe sy genooi is om in Engeland voor die koning en sy gevolg te sing. Ná die konsert is sy na die “royal box” genooi. Maar toe bring iemand vir haar ’n telegram met die boodskap: Haar moeder is pas oorlede. ”My grootste oomblik. Maar op die hoogtepunt van my lewe was ek verpletter.” Die koningsgesin het hul simpatie betuig en gesê sy moet gaan rus. Nee, sy wou nog een liedjie sing. Dit was “My Yidishe Mama, I need you more than ever now . . .”) Joe Venter se boek 58 Jaar van sportgenade is by die Mooihawe-aftreeoord en by Volksblad in Bloemfontein teen R100 te koop. ’n Deel van die opbrengs van die onderskeie verkope gaan aan Mooihawe en aan Volksblad se Kersfonds.
Posted on: Fri, 12 Jul 2013 22:23:49 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015