Solidariteit nader KVBA oor rassisme-klag teen - TopicsExpress



          

Solidariteit nader KVBA oor rassisme-klag teen SAPD-lid Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke het ʼn saak van onbillike diskriminasie en viktimisasie na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys nadat ʼn lid van die vakbond, wat vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) werk, valslik van rassisme beskuldig is. Lt.kol Loretta Botha, wat by die Sunnyside-polisiekantoor werk, is deur ʼn kollega van rassisme beskuldig nadat Botha op instruksie van haar stasiebevelvoerder ʼn opdrag uitgevoer het. Dirk Groenewald, hoof van die Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, sê Botha se stasiebevelvoerder het haar in Januarie 2011 tydens ʼn misdaadbekampingsvergadering opdrag gegee om met ʼn dissiplinêre proses teen kollegas wat televisie gekyk het terwyl hulle aan diens was, te begin. Botha het die opdrag uitgevoer waarna een van haar swart kollegas ʼn grief ingedien en strafregtelike klagte teen Botha aanhangig gemaak het. “In die grief word Botha daarvan beskuldig dat sy rassisties teenoor haar swart kollegas is. Sy is ook van naamskending aangekla. Botha het op haar beurt ook ʼn grief teen die betrokke kollega ingedien. Botha se grief is egter nooit ondersoek nie. Solidariteit en die SAPD het op 5 Augustus vanjaar in die arbeidshof in Johannesburg ooreengekom dat die SAPD Botha se grief sal ondersoek.” Groenewald sê die SAPD het op 27 Augustus tydens ʼn mediasieproses aangedui dat hulle nie ʼn mandaat het om aan Botha se eise in haar grief te voldoen nie. Botha het versoek dat die valse aantygings van rassisme teen haar ondersoek word, dat daar stappe gedoen word teen die kollega wat die aantygings gemaak het en dat haar naam in ere herstel word. “Die SAPD het egter aangedui dat die persoon wat die aantygings teen Botha gemaak het, intussen verplaas en bevorder is en dat hulle die proses as afgehandel ag. Solidariteit het hierna ʼn saak van onbillike diskriminasie en viktimisasie na die KVBA verwys. Solidariteit versoek dat die SAPD middellik aanspreeklik gehou word weens hulle nalating om Botha se grief te ondersoek, soos bepaal in die Wet op Gelyke Indiensneming. Indien ʼn werkgewer nie hiervolgens optree nie, kan die werkgewer aanspreeklik gehou word. Die sentrum sal by die KVBA versoek dat die SAPD die nodige dissiplinêre stappe teen die werknemer wat Botha valslik beskuldig het, moet doen en dat Botha se goeie naam in ere herstel moet word.” Volgens Groenewald is valse aantygings van rassisme in die werkplek nie iets wat ligtelik opgeneem moet word nie en maak werknemers hul dikwels hieraan skuldig. “Die howe het dit reeds duidelik gemaak dat valse aantygings van rassisme onmiddellike ontslag regverdig.” Outeur: Dirk Groenewald Hoof: Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, Solidariteit
Posted on: Thu, 05 Sep 2013 06:40:44 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015