VF+ bied alternatiewe vir ANC se vernietigingswerk in SA Datum - TopicsExpress



          

VF+ bied alternatiewe vir ANC se vernietigingswerk in SA Datum gepubliseer   Deur Mnr. André Fourie MEDIAVERKLARING ONDERWERP : VF Plus bied alternatiewe vir ANC se vernietigingswerk in Suid-Afrika UITGEREIK DEUR : Mnr. André Fourie HOEDANIGHEID : VF Plus-raadslid: Stad Kaapstad DATUM : 17 September 2013 Welklinkende beloftes oor die beskerming van minderhede se regte het twee derdes van Suid-Afrika se witmense in 1992 oorreed om te stem ten gunste van ‘n nuwe politieke bestel. Van daardie beloftes het niks gekom nie en die wrange vrugte daarvan word vandag gepluk, sê mnr. André Fourie, oud-minister en die Vryheidsfront Plus se raadslid vir Stad Kaapstad. Mnr. Fourie is tans besig met ‘n toer deur Swellendam, George (17 September) en Mosselbaai (18 September) waar hy praat oor hierdie en ander onderwerpe wat elke minderheidsgroep in Suid-Afrika direk raak en tans baie aktueel is. Oor die destydse onderhandelinge sê mnr. Fourie dat die belofte van politieke regte en daarmee gepaardgaande beskerming van gemeenskappe nooit gerealiseer het nie en dat die ANC vir alle praktiese doeleindes ‘n blanko tjek gegee is om mee te handel. “Die res is ongelukkig nie net geskiedenis nie. Ons sien vandag die tragiese gevolge daarvan in die vorm van regstellende aksie, Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), werkloosheid onder minderhede weens transformasie, swak dienslewering, bankrot munisipaliteite, korrupsie en bedrog, toesmeerdery, toenemende misdaad…. Die lysie is eindeloos. “Dit het reeds daartoe gelei dat sowat 20% van die land se witmense al sedert 1994 geëmigreer het. Opnames wat onlangs gedoen is, toon aan dat tot 25% van jongmense geen toekoms sien nie en die land wil verlaat. Dit is skrikwekkend,” sê mnr. Fourie. Oor die DA se beloftes om ‘n beter alternatief te bied, sê mnr. Fourie die naakte waarheid, soos uitgespel deur die DA self, is dat hy al die ANC se beleidsrigtings omarm asof dit sy eie is. “Die DA is ten gunste van regstellende aksie en pas dit self toe, hulle steun SEB, aborsie, is gekant teen die doodstraf, swyg oor stakings wat die land lamlê... Ook hier hou die lysie net aan. Tot so ‘n mate dat mense al van die DA praat as die ANC-light. “Onder DA-bewind sedert 2006 is Kaapstad se belastings al met meer as 100% verhoog, salarisse in die provinsie maak meer as 31% van die stad se totale begroting uit, daar was die peperduur fiasco met die Groenpunt-stadion, ‘n luukse busdiens is ingestel wat die belastingbetaler nou R38 per persoon per rit kos om te subsidieer… Ook hier hou die lysie net aan. “U het gelukkig nog ‘n keuse. Die Vryheidsfront Plus is die enigste party wat nog opstaan en veg vir die regte van die Afrikaner en alle minderheidsgroepe. “Die party het hom nou verbind tot samewerking met ander partye wat die ANC op sy vernietigingspad wil stuit, en om die regte van alle groepe in Suid-Afrika te waarborg. Dit kan gedoen word indien almal hande vat en ingelig oor hul stem besluit in aanstaande jaar se verkiesing,” sê mnr. Fourie. Mnr. André Fourie Kontaknommer: 083 441 9262
Posted on: Fri, 20 Sep 2013 05:38:25 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015