Vir die staat en die kerk was dit ’n groot slag toe hulle hoor - TopicsExpress



          

Vir die staat en die kerk was dit ’n groot slag toe hulle hoor dat Jesus uit die dood opgestaan het. Hulle moes die storie toesmeer. Lees net ’n bietjie hier hoe slinks die ouens was: 11 Die wagte het intussen die hasepad gekies. Party van hulle is terug stad toe om vir die hoëpriester te gaan vertel wat alles gebeur het.12 Die Joodse leiers het dadelik weer ’n noodvergadering belê. Hulle het ooreengekom om wat gebeur het stil te probeer hou. Maar hulle moes by die soldate verbykom en bied toe vir hulle ’n aardige bedrag aan. 13 “Vertel asseblief vir almal dat julle deur die nag aan die slaap geraak het. Jesus se vriende het toe die kans gebruik om sy liggaam te steel. Moet julle nie verder oor iets bekommer nie. Ons sal vir alles sorg.14 As die goewerneur vra waarom julle aan diens geslaap het, sal ons wel ’n storie uitdink wat sal keer dat iets met julle gebeur.” 15 Die soldate het die omkoopgeld gretig gevat. Hulle het die storie wat die Joodse leiers versin het oral gaan rondvertel. Die Jode glo die storie tot vandag toe nog. Die Joodse leiers se ware kleure kom net meer en meer na vore. Hulle is skelm en onderduims. Hulle sal enige etiese reël oortree om net hulle eie storie te laat vlot. So val hulle al hoe dieper die afgrond af. Hulle het hulle seker wit geskrik toe hulle agterkom wat regtig hier gebeur het en in plaas daarvan dat hulle tog maar net op hul knieë val en skuld erken, probeer hulle alles toesmeer en bied vir die soldate ’n hoop geld aan. Dit moes ’n groot hoop gewees het, want die soldate moes erken dan hulle nie hul werk gedoen het nie. Om as soldaat op die job te slaap is ’n groot oortreding en daarvoor kan jy jou werk verloor. Maar die soldate is bereid om die risiko te vat, want daai hoop geld is darem net te aanloklik. Die bose is besig om hier groot veld te verloor en sal alle energie inspan om sy grondgebied te beskerm. Daarom is die planne en die liegstories net groter en meer. Orals waar die bose pak vat, word daar net meer energie ingespan om die bose planne uit te voer. En dit is nie net daar in die verlede nie. Vandag nog probeer die bose om sy grondgebied te vergroot en sal enige plan uitdink om dit reg te kry. Dit het ek ook weer die afgelope tyd ervaar met die uitstuur van Kruispad. Ons admin dame laat weet dat daar honderde eposse terugkom. Na ’n ondersoek kom ons agter dat iemand kruispad ge-blacklist het. Omdat die persoon dit gedoen het, word alle eposse wat deur dieselfde internet diensverskaffer gaan, geblok en weer teruggestuur na ons. My vrou kom staan by my en sê sy kan dit net nie verstaan waarom iemand so iets wil doen nie. Daar is tog ’n “verwyder asb” opsie onder aan elke epos wat uitgaan. Hoekom sal een mens ’n ander mens so te ná wil kom? Die een ondeurdagte daad deur een persoon het groot negatiewe gevolge vir ’n ander. Tog besef ek dat dit presies dieselfde is wat met die graf storie gebeur het. Die bose het pak gevat en wou die storie toesmeer. Jy sien, die grondgebied van die ou was in groot gevaar en daarom het hy alle stoppe uitgetrek om dit te beskerm. Dieselfde gebeur toe ook hier met Kruispad. Sy neus is besig om te bloei, hy verloor grond en daarom sal hy enige iets doen om te probeer cover. Daar is iets waarmee ons moet erns maak wanneer ons die Evangelie uitdra en dit is dat ons die bose warm onder die kraag gaan maak en dat hy nie maar lekker gaan terugsit en kyk hoe ons sy grondgebied vir hom kleiner maak nie. Hy gaan enige skewe haas uit die hoed ruk om te probeer keer. Daarom moet jy weet dat die winde gaan kom en jy moet jouself daarteen staanmaak. Tog is die goeie nuus dat die ou nie die Evangelie kan stop nie. Tweeduisend jaar gelede het magtige Joodse leiers ’n storie gespin oor Jesus se opstanding, maar die leuen kon die waarheid nie uitvee nie. Die waarheid het bly staan en staan nog. Jesus het opgestaan. Hoor mooi, Jesus het opgestaan en daarom kan ek lewe. Om oor na te dink Het jy al sulke aanvalle ervaar? Hoe kan jy staande bly? Wie moet help?
Posted on: Mon, 30 Sep 2013 07:25:57 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015