Vrou gee 1ste tree ná erge botsing LEANÉ MEIRING : Beeld “Sy - TopicsExpress



          

Vrou gee 1ste tree ná erge botsing LEANÉ MEIRING : Beeld “Sy het vandag haar eerste tree gegee, gebreekte bekken en al. Sy is ’n tawwe koekie.” So het Barry Combrink gister gesê oor sy vrou, Marinda, wat nog in die Milpark-hospitaal in Johannesburg is ná die gru-ongeluk in Floracliffe, Roodepoort, toe ’n wegholvragmotor teen haar motor en 14 ander gebots het. Marinda is gister uit die waakeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas omdat dokters tevrede was met haar verbeterde toestand. Haar nek en bekken is gebreek en ’n rib het deur haar een long gesteek. Combrink het gesê dit was ’n goeie week vir sy vrou. Dokters was aanvanklik onseker of Marinda sonder ’n nekoperasie sou herstel omdat haar nek op ’n kritieke plek gebreek is. Verder was hulle seker dat sy intensiewe rehabilitasie sou benodig om weer te leer loop. “Vandag weet ons dat sy geen operasie gaan kry nie. Sy gaan vir die volgende drie maande ’n nekstut dra. En nou het sy op haar eie begin loop,” het Combrink gesê. “As sy nou al begin loop, is daar ’n kans dat sy dadelik huis toe sal kan gaan sonder enige ekstra rehabilitasie.” Dit was ook ’n goeie week vir die oorblywende vyf pasiënte wat in die Flora-kliniek behandel is. Dr. Julie MacLiam, woordvoerder van die Life-hospitaalgroep, het bevestig dat almal ontslaan is. Vier mense is in die ongeluk dood en 18 beseer, van wie 16 in die Flora-kliniek behandel is. Cobus Venter, bestuurder van Milpark-hospitaal, het bevestig dat Marinda die enigste pasiënt van dié ongeluk is wat steeds in die hospitaal is. Konst. Vincent Mashiteng, polisiewoordvoerder, het gesê hulle is in ’n gevorderde stadium van die polisie-ondersoek.
Posted on: Tue, 25 Jun 2013 03:03:38 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015