WOORD EN PERSPEKTIEF Rubriek: Nie ras, maar respek alom JAN LUBBE - TopicsExpress



          

WOORD EN PERSPEKTIEF Rubriek: Nie ras, maar respek alom JAN LUBBE : Volksblad Sondag 16 Junie 2013 ‘IN those days the church was not merely a thermometer that recorded the ideas and principles of popular opinion, it was a thermostat that transformed the mores of society . . . If today’s church does not recapture the sacrificial spirit of the early church, it will lose its authenticity . . . and be dismissed as an irrelevant social club with no meaning for the twentieth century.” Ja, dié woorde is vanjaar ’n halfeeu oud. Dit kom uit ’n brief uit die Birmingham- gevangenis, Amerika. Die datum: 16 April 1963. Geskryf deur ’n predikant wat vyf dae tevore – op Goeie Vrydag – tydens ’n vreedsame optog vir burgerregte in hegtenis geneem is. Geregtigheid vir alle Amerikaners was sy strewe, maar op ’n vreedsame manier. In eie geledere is hy dikwels daarvoor veroordeel: Hoe lank nog moet mense met diskriminasie en vernedering en onreg en geweld saamleef; wanneer kom die punt dat jy sê genoeg is genoeg? Dit was in dié debat dat Martin Luther King geskryf het oor die invloed van Christene in die eerste eeue in ’n vyandiggesinde Romeinse Ryk. Oor wat dit is om soos suurdeeg, soos sout, soos lig in die wêreld te leef. Want dít is wat Jesus van Nasaret gesê het ons moet wees. Oor die krag wat daar lê in egtheid, in gehoorsaamheid en trou aan die eie aard en roeping vir Sy kerk op aarde. Ons is geroep om ánders te leef; om iets ánders in ’n harde, ongenaakbare wêreld in te dra; in ’n samelewing in wat hoe langer hoe meer deur eiebelang en eiegeregtigheid gedryf word, en in vervreemding en haat en nyd wegsak. Wanhoop en donkerte. Ons is geroep om te laat hoor hoe klink opregte vriendelikheid en nederigheid, om te wys wat is egte omgee en dankbaarheid, om geduld en gasvryheid uit te leef, om hoop en liefde lewend te hou. Respek vir ’n ander mens, ’n dier, die grond en water en plante wat God se skepping is. Die een wys vir jou hoe warm of koud die water is; die ander verander daardie temperatuur, maak dit leefbaar. Dít is die verskil tussen ’n termometer en ’n termostaat, kultuurkring en kerk: Die een wys vir jou hoe warm of koud die water is; die ander verander daardie temperatuur, maak dit leefbaar. Bring koelte en lafenis daar waar mense mekaar woedend en vol wraakgedagtes aangluur. Bring warmte en deernis daar waar mense kil en ver van mekaar gaan staan het, vol agterdog. Die een meet vyandskap, die ander verander dit in vrede. Die een praat populistiese opinies ná, die ander gaan profeties voor. Nou, gister, was dit Jeugdag. Dit is die einste Martin Luther King wat in daardie selfde jaar, vier maande later – op 28 Augustus 1963 – op die trappe van die Lincoln Memorial in Washington van sy droom vertel het: Dat sy vier kinders eendag in ’n land en nasie sal leef, “where they will be judged not by the color of their skin, but by the content of their character”. Nie kleur nie, maar karakter – dáár lê die hoop vir ons land se jongmense. Nie ras nie, maar respek vir ’n ieder en ’n elk – dít is hoe die toekoms moet lyk! En die vraag is: Help al die baie kerke in hierdie land ons dáárheen? Of, registreer ons maar net die uitsigloosheid wat die vlaktes vol lê? Sing droomverlore liedjies om onsself beter te laat voel? Maak dit regtig ’n verskil dat – soos ’n vriend my meedeel – 77 van die 86 Vrystaatse dorpe as ’n “gereformeerde kerkplaats” begin het? Help dit ’n dorp of woonbuurt regtig dat daar meestal iewers in die middel ’n kerkgebou staan – ’n teken van hoop? ’n Plek wat die aanvoelbare temperatuur in die dorp aangenaam maak? ’n Geur wat lewe versprei? Wat die moraal van ’n samelewing diepgaande beïnvloed? Só ’n kerk sou ontdek hoe relevant sy regtig ís, hoe nodig in ons tyd. Instrument in die hand van God!) Ds. Jan Lubbe van die NG gemeente Berg-en-Dal in Bloemfontein is die nuwe Vrystaatse moderator van die NG Kerk.
Posted on: Sun, 16 Jun 2013 23:08:04 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015