Woord & Perspektief: Kerk moet stem as profeet - TopicsExpress



          

Woord & Perspektief: Kerk moet stem as profeet verhef Volksblad PIET STRAUSS MET Christus as ons hoogste Profeet en Leraar, enigste Hoëpriester wat Homself ter wille van ons aan die kruis geoffer het en ewige Koning wat ons deur sy Woord en Gees regeer, beteken dit dat die kerk in die omgewing waarin hy is, ’n profetiese stem moet laat hoor. Dat die kerk in die hande van Christus en in gehoorsaamheid aan die Woord en die Gees, die wêreld in en om hom Bybels-profeties aanspreek. Dat die kerk so praat dat hy betroubare Bybels-profetiese lyne op die groot sake in sy omgewing aanlê. Nie as ’n politieke drukgroep of ’n vakbond of kulturele belangegroep nie, maar ’n geloofsgemeenskap wat uit die Bybel sy lewenskoers kry. Die kerk moet in die proses so duidelik Skrifgetrou praat dat hy môre en oormôre steeds die reputasie het van iemand wat uit die Woord praat. Dit beteken ook dat die kerk die sake of probleme van sy eie tyd aanpak. Om vas te haak by die verlede maak hom profeties ongeloofwaardig. Die kerk moet hom ten diepste laat hoor oor sake soos die beginsels van regverdigheid en geregtigheid, die rigting waarin ’n land en sy mense moet beweeg om genees te word en te herstel en gesonde waardes in die samelewing. Met sy onlangse besluite oor apartheid is die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika die laaste van die tradisionele gereformeerde Afrikaanse kerke wat hom oor hierdie deel van ons politieke verlede uitgespreek het. Die vraag is nou: Is hierdie kerke gereed om vandag profeties te praat? Ek het die voorreg gehad om deel van ’n gesprek van vyf kerkleiers in Suid-Afrika te wees wat gereeld bymekaar kom om oor landstoestande te praat. Onder hulle was ek die enigste Afrikaanssprekende gereformeerde. Hulle het my egter genooi omdat hulle nie sonder die Afrikaanse kerke – lees: die Afrikaner – wou voortgaan nie. Hul kritiek op misdaad, korrupsie in Suid-Afrika, ’n manipulering van die bevolking en regeringslede se onregmatige bevoordeling van hulself was skerper as myne en fel. Hulle het nie geskroom om dinge by die naam te noem nie. Dit gaan immers om die eer van God. Hulle het gesidder as Jacob Zuma na die ANC-regering as in diens van God verwys en met openlike minagting daarvan gepraat. Terselfdertyd het hulle probeer om kerklik-profeties en Bybels te bly. Ek het besef: Kontak met hulle deur die Afrikaanse kerke kan ons eie perspektief op die Suid-Afrikaanse toneel verbreed en verdiep. Isolasie en slegs ’n kyk na binne maak ons as kerke minder diensbaar vir ons lidmate. Met die Algemene Sinode van die NG Kerk in Oktober op pad, kom daar vanuit hierdie hoek sake wat vandag dringend om aandag vra. Misdaad en korrupsie vreet steeds soos ’n kanker in ons hele gemeenskap. Dit is ook nie rasbepaald of beperk tot swart of bruin of wit nie. Net so is armoede as ’n groot, groeiende werklikheid ook onder wittes ’n probleem. Kleur en ras speel by baie mense steeds ’n bepalende rol. By die bepaling van die regte, aansprake en behandeling van ander mense. In sy toepassing van regstellende aksie is die regering op die voorpunt van ’n rasgebaseerde – rassistiese – benadering. Ontwikkeling in Afrika kom nie alleen deur wette wat nuwe moontlikhede skep en geld versprei nie, maar ook die ontwikkeling van vaardighede en ’n geestelike drakrag van verantwoordelikhede. ’n Kerkgemeenskap wat innerlik en geestelik sterk in die Bybel staan en in die volle lewe Bybelskonsekwent is, is so die meeste werd vir die gemeenskap waarin hy leef. Vanuit hierdie “volle lewe” vir God-benadering moet hy ook deur sy vergaderings profeties praat.
Posted on: Mon, 30 Sep 2013 07:12:21 +0000

Trending Topics



Recently Viewed Topics




© 2015